Dit lyk asof die ANC besig is om sy leierskap al hoe jonger te kies. In Oudtshoorn is dit die 24-jarige Chad Louw en in Kimberley kort op sy hakke die 27-jarige Kagisho Sonyoni.
Sonyoni se akademiese CV lyk goed, met ‘n honneursgraad in ekonomie, ‘n voormalige dosent aan die Sol Plaatje Universiteit, ‘n voormalige lid van die ANC-jeugliga, ‘n voormalige lid van die Suid-Afrikaanse Weermag, asook ‘n voormalige leier van die Suid-Afrikaanse Studentekongres.
Maar watter besigheidsonderving het hy? Wat weet hy van infrastruktuur, om gesoute, ouer ANC-kaders in toom te hou, om vinnige en deurdinkte besluite te neem, om op te staan teen onreg en ‘n daadwerklike verskil in die toekoms van dié stad te maak?
Sonyoni studeer verder
Sonyoni het wel voorheen gesê een van die eerste kwessies wat hy sal aanspreek is om wyksraadslede te ontmoedig om sake van dienslewering as ‘n politieke instrument te gebruik om voordele te kry.
Tussendeur die groot uitdaging wat vir hom voorlê, wat beteken dat hy ook ‘n verhouding met die media, sy raadslede, die gemeenskap, moet bou, studeer hy verder vir ‘n meestersgraad in ekonomie. Hy is nie getroud nie en het ook nog nie kinders nie.
Inwoners bekommerd oor ouderdom
Die inwoners van Kimberley se grootste bekommernis is dat Sonyoni te jonk is en nog nie lewenservaring opgedoen het nie.
Party is van mening dat Sonyoni as ‘n pion gebruik word om die “gemors wat deur die ANC-regering aangevang is”, op te blameer. Ander is meer optimisties en voel jong bloed kan dalk net wees wat die ouer garde nodig het om uit ‘n diepe slaap wakker te word.
Sonyoni skryf op sy Instagramblad “Neem risiko’s. As jy wen, sal jy gelukkig wees. As jy verloor, sal jy wys wees” en ook dat die wêreld verander word deur jou voorbeeld, nie jou opinie nie.
Judy Le Roux sê inwoners van Kimberley moet hom bystaan, raad gee, ondersteun. “Wys hom julle sit al julle hoop en vertroue op hom. Dat julle in hom glo. Afkrakende, afbrekende, vernederende kommentaaar gaan hom in homself laat twyfel.”
Toka Sedilang hoop net Sonyoni kan die waterkrisis uitsorteer, terwyl Marie Crafford vol hoop is dat dié jongeling ‘n verskil kan maak.
Anneri Nel is bekommerd of die ouer mense vir die “kind” gaan luister, aangesien kwalifikasies nie genoeg is om jou voor te berei vir ‘n bestuurspos nie.
Geesdrif en idealisme dalk net wat Sol nodig het
Wynand Boshoff, provinsiale leier van die VF Plus en voormalige lid van die Sol Plaatje Munisipale-raad, sê die geesdrif en idealisme wat jongmense dikwels kenmerk, kan presies wees wat Sol Plaatje nodig het.
“Of dit so gaan wees, sal afhang of hy oor die wysheid beskik om te weet wat hy nie weet nie en ervare medewerkers rondom hom sal versamel. Sy nagraadse studie in ekonomie kan tot die stad se voordeel wees. Die VF Plus sal hom ‘n kans gee om homself te bewys, maar sal hom nie spesiale behandeling gee net omdat hy jonk is nie.”
En dít bly die vraag. Sal Sonyoni sy eie stem kan vind? Sal hy sy man kan staan tussen manne na wie hy in sy kort loopbaan opkyk? Sal hy die nou pad loop en vir Kimberley wys die “generasie Y” lede van die gemeenskap het vat dit vat om wenkbroue op ‘n goeie manier te laat rys.
Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels hier.


