SUID-AFRIKA. – Theuns Jordaan, ’n geliefde en bekende Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, se roudiens vind Vrydag 26 November plaas.
Die roudiens sal om 11:00 plaasvind en sal op Overvaal Stereo 96.1FM uitgesaai word.
Leukemie
FiND iT het vroeër berig dat leukemie verlede jaar by Theuns gediagnoseer is en dat hy hard daarteen baklei het. Hy is op 17 November in sy slaap oorlede. Hy sou op 10 Januarie 51 jaar oud word.
Roudiens
Volgens ’n inskrywing op Overvaal Stereo 96.1FM se Facebook-blad, sal al sy getroue ondersteuners die geleentheid kry om sy laaste reis weg van hierdie wêreld mee te maak. Die diens kan op hulle Facebook-blad gevolg word.
LEES OOK: Jong ma wat vandag verjaar, steeds vermis
Bedanking
“Overvaal Stereo wil die Jordaan-gesin, in die besonder Theuns se pa, Willie Jordaan, bedank vir die vertroue wat hulle in ons geplaas het om hierdie vir Jordaan se ondersteuners moontlik te maak” lees die inskrywing verder.
Agtergrond oor Theuns
Theuns het in 2001 sy debuut gemaak met die album Vreemde Stad en was een van die beste kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf. Hy was die sanger van bekende liedjies soos “Namibsroos”, “Soos Bloed”, Beautiful in Beaufort-Wes” en “Sal Jy Bly”.
Medelye
Huldeblyke en medelye van ondersteuners en verskeie ander Afrikaanse kunstenaars is steeds volop op sosiale media.
Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels oor Theuns Jordaan in Afrikaans hier.



