Volgens statistieke van plaasmoorde is tot dusver net 15 persone vanjaar in plaasaanvalle vermoor, maar baie boere kies nou om hulle plase te laat vaar uit vrees vir hulle en hulle gesinne se veiligheid.
Mike Bolhuis, spesialis-ondersoeker en privaat speurder, sê die aakligste aspek van plaasaanvalle en plaasmoorde is die manier waarin dit uitgevoer word.
Plaasmoorde besonder afgryslik
“Die marteling en brutaliteit van hierdie aanvalle is wat dit laat uitstaan as besonder afgryslik. As die bedoeling net was om te steel, maak die brutaliteit geen sin nie. Die langtermyn effek van plaasaanvalle en -moorde is blywend en kan boere tot vyf jaar neem om na hul vorige vlak van produksie te herstel.”
Mike sê egter baie boere laat vaar nou hulle plase.
“Boere woon in gebiede waar dit tot drie uur kan neem vir die polisie om op die toneel op te daag, waar daar net een polisievoertuig vir ‘n hele streek is. Ongelukkig kies baie boere om hul plase te laat vaar uit vrees vir hul eie veiligheid.”
Blywende trauma op boere
Alhoewel daar ’n groot ekonomiese impak is, moet ons ook bewus wees van die blywende trauma wat hierdie aanvalle vir boere, gesinne en gemeenskappe veroorsaak.
“Landbou- en veiligheidskenners het gesê plaasaanvalle was meestal nie rasgebonde nie, maar gedryf deur ekonomiese gewin. Daar word deur een van ons spesialiste gesê dat plaasaanvalle en -moorde gesien moet word as ’n werklike oorlogsmisdaad deur terroriste. Die misdadigers volg die klassieke reëls van verbintenisse tydens oorlog, waar die kritieke toevoer aan die nasie ontwrig word. Die motiewe vir die aanval van die boere is om die vuurwapens bymekaar te maak en ontwrigting in produksie en verskaffing van nodige voedsel te veroorsaak.”
Volge FiND iT op Facebook hier en lees meer oor plaasmoorde hier.



