Die privaat speurder Mike Bolhuis gaan die moord op die 22-jarige Brendin Horner van nuuts af ondersoek nadat die beskuldigdes vrygespreek is.
Sekola Matlaletsa (45) en Sekwetje Mahlamba (33) is op 19 November vrygespreek op aanklagte van moord, roof en diefstal. Horner is op 1 Oktober 2020 op ‘n plaas buite Paul Roux vermoor.
Nadat Robbie en Mietjie Horner, Brendin se ouers en sy vriendin, Lenize Taljaard, nie vir Brendin daardie nag kon opspoor nie, het Robbie na sy seun gaan soek. Die moordenaars het met Brendin se bakkie weggery, gevolglik kon Robbie nie vasstel waar hy is nie.
Robbie het die volgende oggend op sy seun se lyk, wat teen ‘n paal vasgebind was, afgekom.
Volgens Bolhuis het hulle ‘n spesialis-eenheid aangestel wat die saak gaan ondersoek. Hoewel dit altyd baie moeilik is om ‘n “koue saak” weer te ondersoek, sê Bolhuis dat daar ‘n algehele herondersoek gedoen gaan word, asook her-evaluasies van ondersoeke wat reeds gedoen is. “Ons gaan kyk wat die polisie gedoen het, nie gedoen het nie, verkeerd gedoen het en reg gedoen het.
“Ons sal alles in ons vermoë doen om soveel as moontlik nuwe inligting in te win, asook of enigiets oor gedoen moet word en dit dan te presideer,” sê Bolhuis.
Mense bel Mike Bolhuis
Mense het Bolhuis verlede week gebel nadat dit duidelik geword het dat die staat nie genoeg bewyse het om die twee mans te vervolg nie.
Boy Khambule, die staat se sleutelgetuie, het glo aan Eyewitness News gesê dat hy deur die polisie geïntimideer was nadat hy die staat teengestaan het en die inhoud van sy ondertekende verklaring verwerp het.
Hy het beweer dat hy twee mans gesien het wat na bewering die 21-jarige plaasbestuurder in die Vrystaat vermoor het.
“Selfs polisielede wat nie noodwendig regstreeks met die ondersoek verbind is nie, het my gebel en gevra om die moord te ondersoek.”
Bolhuis het versoek dat mense met inligting oor die moord hom moet kontak.
Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer oor Mike Bolhuis hier.



