Lallie – die singende plaasnooi van Pretoria

Deel hierdie storie / Share this story

Lallie is gebore op Schweizer-Reneke en tans woonagtig in Pretoria, maar is van kroontjie tot toontjie ‘n plaasnooientjie en haar wortels is diep geplant.

Dié sangeres wat Woensdag 10 November haar debuutsnit – Boereraat – vrygestel het, is reg om ons land aan die brand te sing. Die pragtige blondekop sing al van jongs af en het haar eerste optrede gedoen toe sy maar net vyf jaar oud was. Sy kom uit ‘n baie musikale gesin en het as kind aan baie klein kompetisies deelgeneem.

“My beste oomblik in my lewe, tot dusver, was nou onlangs toe ek my debuutsnit vrygestel het.” 

Toe sy gevra word watter sanger haar inspireer, het sy sonder twyfel geantwoord: “Daar is hopeloos te veel om net een uit te sonder, maar ek hou baie van kunstenaars soos Riana Nel, Juan Boucher, Elvis Blue, Appel, Ricus Nel en Brendan Peyper, nie net omdat hul mooi sing nie, maar omdat hulle self skryf ook. Hulle inspireer my!” 

Lallie laat nie gras onder haar voete groei nie en is reeds besig om aan haar tweede enkelsnit te werk.  Haar grootste droom is om ‘n deurbraak te maak in die musiekindustrie, voltydse musikant te kan wees, en om eendag haar eie wilds- of perdeplaas te hê.

“My raad aan alle opkomende kunstenaars is om nooit moed op te gee nie, werk hard, droom groot, bid groter, glo en vertrou.  As jy op jou knieë bly sal jy nie kan struikel nie.”

Lallie is verseker een van die nuwe kunstenaars om dop gehou te word.