‘n Voormalige NFL-speler, Zac Stacy, is op Orlando- internasionale lughawe in hegtenis geneem nadat hy klaarblyklik sy eks-meisie, Kristin Evans, aangerand het.
Dié aanranding is op die kamera in die huis opgevang. In die video, wat deur TMZ Sports verkry is, wys dit hoe Stacy Evans gewelddadig behandel voor hulle vyf maande oue seuntjie.
Hy gooi haar van die bank af en dan op die grond. Hy gooi haar teen die televisie dat die televisie op die grond val.
Sy baklei glad nie terug nie en lê net op ‘n bondeltjie op die grond. Sy sê op ‘n stadium “asseblief”.
Voordat hy by die deur uitstap, tel hy haar weer ‘n keer op en gooi haar hard op die grond, bo-op die baba se loopring.
Jy kan die baba hoor huil in die agtergrond.
Volgens ‘n beskermingsbevel wat Maandag ingedien is, het die vrou gesê Stacy het die naweek na haar huis gekom om die baba te besoek. Hy het geweldadig en jaloers opgetree.
“Hy het my verskeie kere teen my kop geslaan. Ek het hom gesmeek om op te hou, want ons baba was op die rusbank, ‘n paar meter weg van waar hy my met die vuis geslaan het,” het die vrou in haar aansoek gesê.
Sy het ook geskryf Stacy het vir babatjie gesê “ek is lief vir jou”, voordat hy by haar huis uit is.
“Ek vrees vir my en my kinders se lewens.”
Die video het wyd kommentaar van sy vorige spanmaats uitgelok, wat die voorval ten sterkste veroordeel.
Chris Long, ‘n voormalige spanmaat, het gesê dis mal om te dink jy speel so lank saam met iemand sport en jy weet nie eens wie hulle is nie.
Stacy het Vrydag in die hof verskyn en is beveel om sy paspoort te oorhandig. Hy moes ook borgtog van $10 150 (R159 000) betaal. Hy mag geen kontak met Evans hê nie en enige vuurwapens in sy besit moet oorhandig word. Hy mag slegs in sy huis bly tot en met sy volgende verskyning.
As hy skuldig bevind word op die aanklagte teen hom, kan hy 15 jaar lank tronk toe gaan.
Bronne: The Mirror, The Hill, TMZ
Volg FiND iT op Facebook hier en lees meer artikels op FiND iT hier.



