Brendin Horner-moordverhoor moet kollig ook op moontlike polisiebetrokkenheid by misdaad laat val – VF Plus-leier

Deel hierdie storie / Share this story

Die moordverhoor van Brendin Horner staan teen die agtergrond van openlike beweringe van polisiebetrokkenheid by veral veediefstalsindikate in die Vrystaat en die kollig sal daarom tydens die saak ook skyn op hierdie aspek en die deeglikheid van die polisie-ondersoek na die moord, sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier in ‘n mediaverklaring.

Horner is op 1 Oktober verlede jaar by ʼn plaashek in die Paul Roux-distrik vermoor.

Volgens dr. Groenewald is dit onaanvaarbaar dat die polisie se ondersoek die twee beskuldigdes, Sekola Matlaletsa (45) en Sekwetje Mahlamba (33) na langer as ʼn jaar nie direk met die moord op Horner kon verbind nie, veral omdat een van die mans luidens vroeëre mediaberigte wel ʼn bekentenis oor die moord afgelê het.

“Net so is dit verontrustend dat ʼn staatsgetuie, mnr. Boy Khambule, nou ook die inhoud van ʼn verklaring ontken waarin hy die twee beskuldigdes by die moord betrek. Daar is ook Woensdag getuig geen DNS-monsters op die moordtoneel en op verskeie bebloede kledingstukke van Mahlamba en Matlaletsa, verbind hulle met die moordtoneel nie.”

Ná die moord op Horner het boere in die omgewing inligting met die polisie gedeel waarvan dr. Groenewald bewus is en wat senior lede in die polisie verbind met misdaadsindikate wat in die Vrystaat opereer.

Volgens boere is inligting oor hierdie sindikate lank reeds aan die Valke gegee, maar daar het niks van gekom nie. Luidens die verklaring moet die bewering nog ondersoek word en indien dit wel so is, moet die optrede van die betrokke lede aan wie die inligting verskaf is, deeglik ondersoek word.

Volgens getuienis in die hof is die DNS van drie onbekende persone wel op die moordtoneel gevind. “Hierdie mense moet opgespoor word en vervolg word. Die polisie moet hierop fokus. Weens die ernstige aard van die beweringe van polisie-betrokkenheid rondom die Horner-moord, is dit van die grootste belang dat alle vrae beanwoord word en dat die publiek die gerusstelling kry dat die saak behoorlik en deeglik ondersoek is,” beaam dr. Groenewald.