Twee Beagles doodgeskiet

Deel hierdie storie / Share this story

Twee Beagle-honde is Donderdagmiddag 11 November op ‘n plaas naby Calvinia doodgeskiet nadat hulle glo besig was om verwoesting te saai by skape en een van die perde gebyt het.

Die klaers het Donderdagmiddag by hul huis aangekom en gevind dat hul hek oopgelaat is en hul sewe Beagles weg is. Terwyl hulle besig was om na hul honde te soek, het hulle een van die Beagles op ‘n nabye plaas gevind. Volgens die klaers het dit gelyk of die hond se poot seergekry het en kon hy dus nie by die res van die honde hou nie.

Die eienaar van ’n nabygeleë plaas het bevestig dat hulle skote op hul erf gehoor het waarna die klaer in die rigting van die geluid van die geweerskote gery het.

Volgens Mike Bolhuis, privaat ondersoekbeampte, het die klaer ‘n rukkie later op ’n Land Cruiser-bakkie met ’n skietstoel gekry, asook ’n jong man met ’n .308-geweer, afgekom.

“Hy het erken dat hy twee van die honde geskiet het in opdrag van ‘n ander buurboer.”

Nadat die liggame van die honde gekry is, is die klaer saam met ‘n verteenwoordiger van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) na die polisie gery.

Nadat ’n verklaring afgeneem is en ’n klag ingedien is, is daar aan die klaer gesê dat die saak na die speurder aan diens verwys sal word en dat hy die volgende oggend, 12 November 2021, ‘n saaknommer sal ontvang.

Volgens Bolhuis het sy kliënt geen kennisgewing ontvang nie en het hy later die middag na die polisiekantoor teruggekeer. “My kliënt is toe meegedeel dat die speurder die saak eers Maandag met die landdros sal bespreek, en dan eers sal hy ‘n saaknommer ontvang.

“Intussen het my kliënt my laat weet dat die speurder met verlof is. Geen klagte is ingedien nie, geen dossier is oopgemaak nie en die polisie het die man wie die honde geskiet het, se verklaring eers Saterdag 13 November 2021 afgeneem.”

Volgens die verklaring beweer die man dat hy die reg gehad het om die honde te skiet.

Bolhuis sê die vermoede is dat die man, ‘n oud-polisiebeampte en goeie vriend van die speurders in hierdie area, beskerm word deur die polisiebeamptes wat nie ‘n saak open nie.

“Daar word geglo dat daar geen gevolge vir die man sal wees nie, aangesien die polisie in die gebied korrup blyk te wees. Ons kliënte sal met die ondersoek voortgaan met die hulp van ons aangewese spesialisondersoeker.

“Die man het geen magtiging om met ‘n .308-geweer op die Beagles te skiet nie.”

Die man kon glo tot dusver nog geen bewys van ‘n beseerde skaap of ‘n beseerde perd toon nie.

Die Calvinia-polisie ondersoek ’n saak van opsetlike saakbeskadiging ná die bewerings van honde wat noodlottig op ’n plaaseiendom naby Calvinia geskiet is.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens op Calvinia het die bewering dat die klaer die reg geweier is om ‘n saak teen die vermeende oortreder te open, weerlê. “Ons kan bevestig dat die saak ondersoek word. Niemand is in dié stadium in hegtenis geneem nie.”

Die ondersoek duur voort.

*Die naam van die man is aan FiND iT bekend.