Suretha Brits pleit skuldig

Deel hierdie storie / Share this story

Suretha Brits (31) het Maandagoggend in die hooggeregshof in Upington skuld beken op aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede, het Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van NPA, bevestig.

Ander aanklagte is teruggetrek.

Brits het op aanklag een, moord, 25 jaar direkte gevangenisstraf en aanklag twee, roof met verswarende omstandighede, 15 jaar gekry. Dit word samelopend uitgedien.

Brits het ‘n vrywillige pleitbyeenkoms met die staat gesluit. Adv. Barry Roux, wat ook vir Oscar Pistoruis verteenwoordig het, het die hof namens haar toegespreek.

Adv. Hannes Cloete is die staatsaanklaer.

Brits het tereggestaan weens die moord op haar man, Leon Britz (41) ‘n hoteleienaar en deeltydse boer van Pofadder.

Kort na die moord op Leon is Jacques van Vuuren (37), saam met sy beweerde huurlinge Enrich Williams (34) en Amantle Bareki (24) in hegtenis geneem. Die gemeenskap was geskok toe Brits in Maart vanjaar weens die moord aangekeer is. Leon is op 7 Oktober verlede jaar in sy huis se swembad met ‘n hondeleiband aan sy nek, waarmee hy vermoedelik verwurg is, gevind. Hy is verskeie kere met ‘n mes gesteek. Hy is glo na die huis gelok met ‘n oproep dat sy honde in die straat was. Brits het op haar man se lyk in die huis se onderdak swembad afgekom nadat sy hom gaan soek het toe hy nie haar oproepe beantwoord nie. In ‘n pleitooreenkoms beweer Van Vuuren, wat reeds skuldig bevind is en 20 jaar tronkstraf gekry het, dat Brits hom gevra het om haar man te vermoor. Sy het hom R400 000 en ‘n diamantring van ongeveer R100 000 aangebied. Williams en Barekei se verhoor sal op 22 November in die hooggeregshof in Upington begin.