Die wêreldbekende skrywer Wilbur Smith is Saterdagmiddag onverwags by sy huis in Kaapstad oorlede ná ‘n oggend van lees en skryf. Sy vrou, Niso, was by hom toe hy gesterf het.
Wilbur Smith se skryfwerk gryp lesers al vir meer as ‘n halfeeu aan en meer as 140 miljoen eksemplare van sy boeke is al in meer as 30 tale wêreldwyd verkoop.
“Dis vir ons hartseer om aan te kondig die geliefde skrywer Wilbur Smith is Saterdagmiddag onverwags by sy huis in Kaapstad oorlede,” lui ‘n twiet wat op die skrywer se amptelike Twitter-profiel geplaas is.
Soortgelyke aankondigings is op sy Facebook-blad en die amptelike Wilbur Smith-webtuiste gedeel. Die plasings het nie genoem wat die oorsaak van sy dood was nie.



