“Dit het gevoel asof ons in die hel was. Alles was demonies. Mense het uit hulle monde en hulle neuse gebloei. Niemand kon asemhaal nie.”
So vertel Brook Elliot wat by Travis Scott se onlangse vertoning was waar nege mense in die skare dood is en minstens 25 in die hospitaal opgeneem is ná die vertoning.
Travis Scott, die bekende Amerikaanse kletsrymer, se onlangse vertoning by die Astroworld Festival het baie mense van regoor die wêreld aan die praat.
Na die skare omstreeks 21:38 in Houston voor die verhoog saamgedrom het, het van die toeskouers paniekerig begin raak. In die vertoning wat 90 minute geduur het, het nege mense op die grond beland. Hulle is deur die res van die skare vertrap.
In video’s wat op sosiale media gedeel word, skree die skare “Stop the show”, maar gaan die vertoning steeds voort. ‘n Video wys hoe een van die toeskouers selfs op ‘n leer klim om Scott se beligtingspersoneel te vra om die vertoning stop te sit omdat mense besig is om dood te gaan.
Brook Elliot, een van die konsertgangers, het die dag na die vertoning ‘n video op TikTok gedeel waarin sy van haar ervaring by die vertoning vertel.
“Dit het gevoel asof ek in die hel was. Ek het nog nooit in my lewe so iets ervaar nie. Almal rondom my het gehyg na asem en ek was omring deur lewelose liggame. Mense het deur hulle neuse en hulle monde gebloei. Ons het probeer om uit die groep uit te kom, maar as ons agtertoe probeer druk het, is ons net weer vorentoe, verder in die bondel in, gestamp. Dit het gevoel of ons om ons lewe moes veg. Alles was demonies.”
Elliot sê toe hulle uiteindelik uitgekom het, het hulle gesien hoe mense opgooi en hoe mense wat uiteindelik uit die bondel kon kom, weghardloop.
‘n Argument is begin dat “satanistiese rituele” tydens die konsert uitgevoer is en dat die brandende voël en die agt brandende pilare op die verhoog ‘n sinistere betekenis het.
Sal jy so ‘n konsert bywoon?



