Die VF Plus betuig hiermee sy meegevoel met die naasbestaandes en kennisse van mnr. FW de Klerk wat vandag oorlede is en glo dat hulle vertroosting van die Hemelse Vader sal ontvang.
Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê: ‘Mnr. De Klerk was ʼn omstrede politikus en het die proses vir ʼn nuwe politieke bedeling vanaf 1994 in Suid-Afrika aan die gang gesit. Daar was sterk meningsverskil oor die rigting wat hy ingeslaan het met sterk steun vir en teen sy besluite.’
‘Ek is van mening dat mnr. De Klerk eindelik self nie tevrede was met die uitkoms van die politieke veranderinge nie. Hy het die gevolge en verval nie voorsien nie en het dit later self erken.’
‘Sy nalatenskap is wel dat hy Suid-Afrika se politieke landskap ingrypend verander het, al is die resultaat nie wat hy in die vooruitsig gestel het nie.’
‘Ek het van die begin gesê ek verskil van mnr. De Klerk oor sekere aspekte van ʼn veranderde en nuwe bedeling in Suid-Afrika. My mening was dat die nuwe bedeling groter federale magsdeling en meer beskerming vir minderheidsgroepe moes insluit.’
‘Mnr. De Klerk het nogtans geglo in wat hy gedoen het en hy het volhard met sy strewe na politieke verandering in Suid-Afrika.’
*PERSVERKLARING
Lees ook: FW de Klerk dies at age 85
Volg FiND iT hier.



