Barloworld ras-afleggings: uitspraak voorbehou

Deel hierdie storie / Share this story

Uitspraak is vandag in die Konstitusionele Hof voorbehou in die saak wat Solidariteit teen Barloworld Equipment Suid-Afrika voer. Solidariteit het die maatskappy voor die hof gedaag nadat hy voortgegaan het met die onregverdige aflegging van werknemers.
 
Volgens Solidariteit het Barloworld onbillik opgetree deurdat hy nie behoorlik met werknemers en vakbonde gekonsulteer het nie. Hy het eensydig op afleggingskriteria besluit en voortgegaan met die implementering daarvan sonder om voldoende met belanghebbendes te konsulteer soos deur arbeidswetgewing vereis word. Solidariteit voer verder aan dat om ras en geslag as kriteria vir die aflegging van personeel te gebruik, diskriminerend van aard is.
 
“Dat Barloworld so teenoor lojale werknemers kan optree deur hulle met soveel minagting te behandel, is skokkend. Ons kan nie toelaat dat maatskappye prosedures opsyskuif,  onregmatig optree en diskriminasie toepas nie, en daarom was ons vandag in die hof om Barloworld en die wyse waarop hy sy afleggings hanteer het, uit te daag,” sê Willie Venter, adjunkbestuurshoof van Metaal en Ingenieurswese by Solidariteit.
 
“Afleggingsprosesse word uitdruklik gestipuleer en kan nie links en regs omseil word nie. ʼn Maatskappy soos Barloworld behoort ten volle hiervan bewus te wees en nie te poog om kortpaaie te vat nie.  Ons sal nie toelaat dat ons lede die slagoffers van onbillike optrede word nie, en ons sal voortgaan om regverdige optrede van werkgewers te eis,” sluit Venter af.

Lees ook: VF Plus-meegevoel met afsterwe van FW de Klerk

Volg FiND iT hier.

*PERSVERKLARING