‘n Video van ‘n man, Owen Pellow, wat sy vrou vermoor het oomblikke voor hy die deur vir die polisie oopmaak, het onlangs weer opgeduik.
Pellow se vrou, Lisa-Marie Thornton, is op 23 November 2017 dood in hulle huis aangetref. Sy het volgens oorsese media in ‘n plas bloed gelê en het aan 39 steekwonde beswyk.
Pellow, wat in die video duidelik aan ‘n mate van skok ly, het die polisie kort na haar dood gebel.
Een van die polisielede het die oomblikke wat Pellow die deur oopmaak en sy arrestasie op kamera opgeneem.
‘n Verskrikte Pellow maak die deur oop. Die polisielid vra hom dan of hy Owen is, waarna hy mompel dat hy wel Owen is. Wanneer die lid dan vir hom sê om buitentoe te tree, sê hy eers hy wil nie, tot hy dit uiteindelik doen.
“She has done herself in,” sê Pellow. “She’s stricken herself. Three, five, nine.”
Hy antwoord dan die polisielid se vraag oor waar Lisa-Marie op die oomblik is, deur te sê dat hy haar in sy bed moes sit. “She’s my love.”
Pellow word dan kort daarna op aanklag van Lisa-Marie se dood in hegtenis geneem.
Soos Pellow in die video ook gesê het, het hy in die hof volgehou dat Lisa-Marie haarself doodgemaak het en dat hy moes staan en toekyk hoe sy dit doen.
‘n Jurie het egter besluit dat Pellow die skuldige een is en dat hy tot lewenslange tronkstraf met ‘n minimum van 17 jaar gevonnis moet word.



