Kaal vrou maak amok in Capitec-tak

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vrou (41) is Donderdag in hegtenis geneem na ‘n video van haar wat kaal amok maak in ‘n tak van Capitec, wyd op sosiale media versprei is.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die Strand-polisie het ‘n saak van opsetlike beskadiging van eiendom oopgemaak.

Berigte op sosiale media het aanvanklik bespiegel die vrou het haar klere in die Capitec-tak uitgetrek en begin om eiendom in die winkel te beskadig ná haar aansoek vir ‘n lening nie goedgekeur is nie.

Capitec het intussen ‘n verklaring uitgereik oor die voorval. Capitec sê die vrou is een van sy kliënte, maar dat haar aansoek om ‘n lening nooit afgekeur is nie.

“Voor die kliënt by die tak ingeloop het, het sy reeds haar klere uitgetrek.”

“Ons vra dat Suid-Afrikaners haar waardigheid respekteer.”

Die video wat versprei word, wys hoe die vrou sonder ‘n draad klere probeer om na ‘n rekenaarskerm te gryp. Sy loop dan rond in die tak en gryp in ‘n stadium iets wat sy dan weer op die grond neergooi.

Verwarde en verbouereerde kliënte en personeel verlaat stuk-stuk die gebou. Na ‘n ruk neem ‘n sekuriteitswag die vrou by die gebou uit.

Die vrou verskyn binnekort in die Strand-landdroshof.