Kimberley Online Co. gesels met die 26-jarige Eureez Pommer oor hoe sy van ‘n skaam, teruggetrokke meisie in ‘n volwasse vrou vol selfvertroue verander het en op dié manier ‘n lewe vir haarself gebou het.
Eureez is in Kimberley gebore en het in die stad grootgeword.
Sy het aan Hoërskool Noord-Kaap gematrikuleer en werk tans as menslikehulpbronbeampte by Flamingo Casino in Kimberley.
“Om in ‘n gemengde familie groot te word, is moeilik. My ma se kant is Islamities en my pa was ‘n Christen. Toe my ma en my pa trou, het my ma my pa se geloof aangeneem, maar ons het steeds met Islamitiese nuanses grootgeword.”
Eureez vertel die lewe het moeiliker geword na haar pa in 2001 oorlede is. Sy was toe maar vyf jaar oud. Eureez se oudste sussie is ‘n jaar later oorlede.
“Ek het met soveel vrae en selfbeeldprobleme grootgeword. Ek het konstant gewonder hoe die lewe sou wees as my pa steeds geleef het. Ek sou myself gereeld afvra of ek nie vir hom genoeg was om voor te lewe nie.”
Die skaam, teruggetrokke introvert Eureez het na skool gaan studeer en toe sy na Kimberley terugkeer, het sy aanvanklik gesukkel om werk te kry.
“Ek het vir ‘n menslikehulpbronnekursus by die Tvet-kollege in Kimberley ingeskryf. Ek het in dié tyd ook by die CRC-kerk aangesluit en ek het onmiddellik ‘n verandering in myself en in my lewe gesien. Van daar af was my lewe nie dieselfde nie.”
Eureez het as diaken by die kerk gedien en sy vertel hoe haar vriende ook almal by die kerk betrokke was. “Ons almal het mekaar op dié ‘journey’ ondersteun.”
“Ek het begin verstaan wie ek was en waar my identiteit lê. Alles wat ek nodig gehad het, van ‘n berader, ‘n vriend of ‘n besigheidspersoon, kon ek by die kerk kry. Ek het dapper en selfgeldend geraak en my selfvertroue het gegroei.”
Voordat Eureez haar kwalifikasie by die kollege kon voltooi, het sy ‘n indiensopleidingsaanbod by die casino gekry wat in 2019 begin het.
Ongelukkig was die onsekerheid weer daar vir Eureez toe die Covid-19-pandemie begin het.
“Ek het gedink ek sou werkloos wees. Kan jy jou verbeel om in die vermaaklikheidsbedryf te werk tydens ‘n pandemie? Maar God was daar vir my en ek het ‘n permanente werksaanbod aan die einde van 2020 gekry.”
Eureez sê sy geniet vinnige, spontane uitstappies in die natuur saam met haar vriende en geniet dit ook baie om reekse op Netflix te kyk en nuwe kosse te probeer.
Sy beoog om verder te studeer in 2022 en sê sy beplan om groot hoogtes in die menslikehulpbronnebedryf te bereik.
“Ek sal graag ‘n bietjie wil rondbeweeg en ervaring opdoen, maar oor vyf jaar sal ek graag in Kimberley wil wees, besig om aan my beroep en my familie te werk. ‘Home is where the heart is.'”
Eureez sê dis belangrik om doelgerig te bly. “Besluit wat jy wil hê en wie jy wil wees en bly daarop gefokus. Om doelgerig te wees, oorheers elke uitkoms. En wanneer jy ‘n terugslag ervaar, staan op en hou aan, want ons kan nie die verlede verander nie, maar ons kan iets aan môre verander. Vier ook klein oorwinnings!”
“Remember, in the end we win.”




