Maak jou reg om hierdie maand ‘n klomp snorre te sien, meer as gewoonlik! Dis Movember-maand en tyd om daai snor te laat groei.
Hoewel Movember sedert 2003 vir groot pret sorg, skuil daar baie meer agter die “snor-beweging”.
Movember het oorspronklik ontstaan deur ‘n groep vriende in Australië wat sommer vir die grap besluit het om hul snorre te laat groei.
‘n Jaar later het ongeveer 450 mans ook hulle snorre laat groei en in die proses 25 000 pond vir prostaatkanker-navorsing ingesamel.
Vandag, 18 jaar later, neem meer as 8 miljoen mans en vroue, ja glo dit of nie, vroue ook, aan die inisiatief deel.
Die doel van Movember is om die fokus te plaas op die bewusmaking van mans se gesondheidskwessie soos prostaatkanker, testikulêre kanker, geestesgesondheid en selfdood-voorkoming omdat mans nie so gemaklik oor hierdie kwessies praat soos vrouens nie.
Deur hierdie inisiatief word mans ook aangemoedig om beter na hulself te kyk en volgens die Movember-webblad, leef vroue ses jaar langer as mans.
Om die inisiatief te ondersteun, hoef jy nie noodwendig jou snor te laat groei nie, jy kan ook aan pretdrawwe of geldinsameling deelneem.



