Juan-Luke, ‘n sewe maande oue baba, is erg verbrand nadat ‘n ketel met kokende water op hom geval het.
Bianca Marx, Juan-Luke se ma, gesels met FiND iT oor die aaklige dag asook die lelike kommentaar wat sy tot dusver gekry het.
“Nee! Die ketel!,” skree Bianca. “Gewoonlik as ek skrik, vries ek, maar daai dag het die Here my krag gegee om dadelik te reageer.”
Juan-Luke smag na sy asem en die velle spoel een vir een van sy lyfie af toe Bianca hom onder ‘n koue kraan druk sekondes nadat hy gebrand het.
Die huishulp het die vorige dag die gordyne en venster gewas en die ketel se draad, wat deur die diefwering kom, losgemaak, waarna sy vergeet het om dit weer vas te maak.
“Juan-Luke was in sy loopring in die kombuis terwyl ek besig was om vir my man, Phillip, koffie te maak. Ek het nie gesien die draad is nie weer vasgesit nie,” vertel Bianca.
Terwyl sy histeries vir haar man skree, hardloop sy om die Aloe Vera te kry en aan sy brandende lyfie te smeer. Soos sy klere gryp oom aan te trek, probeer Bianca dokters in die hande kry. “In daai stadium was my kind se hele linkerkant van kop tot tone bloedrooi. My man het net heeltyd gebid terwyl ek aantrek en bel. Boetie het vreeslik gehuil en elke traan het letterlik deur my hart gesny”.
Bianca kry geen dokter in die hande nie en besluit om in die motor te spring en na die naaste hospitaal te jaag. Kimberley of Klerksdorp is in dié stadium al opsies. Altwee is min of meer dieselfde afstand van waar hulle op ‘n plaas op Schweizer bly.
“Die twee ure op pad Kimberley toe het soos ‘n leeftyd gevoel. Al wat ons kon doen, was bid.”
Ongeveer ‘n uur en ‘n half vanaf Kimberley, net voor Christiana, raak Juan-Luke aan die slaap tot in Kimberley. “Dit was die vinnigste wat ons nog ooit gery het, maar die pad het steeds soos ‘n leeftyd gevoel,” vertel Bianca.
“Die oomblik toe ek sien my seuntjie slaap, het die Here ‘n rustigheid oor my gestuur en ek het geweet alles gaan oukei wees,” voeg Phillip by.
‘n Dokter en susters kon help onmiddellik toe Bianca Ongevalle binnehardloop. “In daai stadium was Boetie wakker en glimlag vir almal! Ons grootste wens en gebed was om net al sy pyn weg te vat.”
Mens sou nie sê dis dieselfde baba wat skaars twee ure vantevore gebrand het nie. Juan-Luke was heel rustig terwyl die dokter hom smeer en verbande aangesit het.
“Boetie is na die chirurgiese saal geneem om hom voor te brei om moontlik die volgende oggend teater toe te gaan.
“Toe ek die teaterkleertjies op die bed sien lê, loop die trane oor my wange soos ek vir die Here vra om hom te genees sodat hy nie die volgende oggend teater toe hoef te gaan nie. Ek kon nie sien dat die kleine lyfie geopereer moes word nie.”
Die volgende oggend is dit asof al ons gebede verhoor was. Nadat die plastiese chirurg sy verbande kom afhaal het, het Juan-Luke se wonde so mooi herstel dat hy kon huis toe gaan. “Ek dink nie ek sal ooit daai gevoel van dankbaarheid kan beskryf nie. Hierdie is absoluut ‘n wonderwerk!,” sê Bianca.
Die kritiek
Nadat ‘n ander publikasie ook die storie oor Juan-Luke geplaas het, was Bianca al links en reg gekritiseer.
“As jy as ouer nog nie self deur so iets was nie, sal jy nooit die seer of verwyte verstaan waarmee ek die afgelope tyd moes deal nie. Ek wou graag my wonderwerkstorie met die wêreld deel. Vertel hoe goed God vir ons was en watse krag in gebed lê. Al wil die duiwel kom steel, sal ek dit nie toelaat nie. Hierdie is so ‘n rou en seer storie, maar ook so ‘n mooi storie van God se liefde. Na al die kommentaar het ek het net weereens besef in watse aaklige wêreld ons lewe waar mense nie kan wag om jou te oordeel nie. Ek wens hierdie nie eers vir my grootse vyand toe nie.”
Een kommentaar wat haar die seerste maak, is die feit dat sy nalatig was. “My kombuisarea, soos die res van my huis, is “baby safe”. Ek het vir ‘n oomblik my rug gedraai om vir my man sy koffie te gee toe Boetie die draad gryp. Dit was ‘n breukdeel van ‘n sekonde. Dis asof mense dink ek het my baba aspris laat brand. Ek verwyt myself nog elke dag hiervoor.”
Dankie aan almal wat wel besluit het om die positiewe kant in die storie te sien. Dankie vir julle gebede.
“Op die ou einde van die dag kies ek om nie op die negatiewe te fokus nie, maar op die positiewe. My hart is nog in stukke, maar my baba is genees. Dis al wat tel, ongeag wat mense sê.






