‘Alles gebeur tóg met ‘n rede’

Deel hierdie storie / Share this story

Helena D’Offizi (33) ‘n mamma en grafiese ontwerper van Bloemfontein, vertel ons hoe sy in ‘n baie moeilike finansiële tyd tydens die Covid-19-pandemie onverwags ‘n ommekeer in haar lewe gemaak het.

Helena is met Gianni D’Offizi (49) getroud en hulle het drie pragtige kinders saam. Gianluca is vier jaar oud en die tweeling, Mariella en Giuliana, is twee jaar oud. Gianni het ook ‘n 13-jarige dogter, Chelsea, wat by haar ma in Johannesburg woon en gereeld vir Helena-hulle kom kuier en in 2020 voltyds by hulle gewoon het.

Helena, wat al vandat sy in graad 8 was in Bloemfontein woon, was by Oranje-meisieskool op laerskool en het aan Hoërskool Sentraal gematrikuleer. Ná skool het sy haar graad in grafiese ontwerp in 2012 verwerf.

Helena vertel hoe al haar werk wat studentefunksies en troues aanbetref, opgedroog het toe die Covid-19-pandemie geslaan het. “Ek het ook nie ander ‘design’ werk ingekry nie en ek het ook baie minder fotoboeke vir mense gedoen. My man het ook van Maart tot Mei nie salaris gekry nie, maar slegs ‘n klein bedrag werkloosheidsversekering.”

Gianni het in Mei 2020 weer werk gekry, maar sy salaris was aansienlik minder. Sy vertel dat hulle in dié tyd, omdat Chelsea ook toe by hulle gewoon het, vier kinders onder hul vlerk gehad het. Hulle tweeling was toe maar vier maande oud en boonop is hulle seuntjie met tipe 1-diabetes gediagnoseer, wat baie mediese onkostes tot gevolg gehad het.

Helena het in dié tyd op haar Facebook-blad, wat sy al sedert 2012 het, foto’s opgelaai van foto-houtblokke wat sy begin doen het. Sy vertel hoe sy eers baie gesukkel het om die regte tegniek te kry om die houtborde plat en perfek te kry, en dat sy baie video’s op YouTube gekyk het om haar tegniek te verbeter.

“Ek het toe eendag ‘n bestelling ontvang van ‘n vrou met die naam Margie. Sy wou vir haar baas as geskenk drie honde op houtborde laat maak. Die foto’s was nie vir my baie mooi nie en ek het toe die honde se koppe uitgesny en mooi blaartjies om hulle nekke gesit.”

Sonder enige verwagtinge het Helena dié ontwerp op haar Facebook-blad gelaai en skielik het die bestellings begin instroom. “Ek en my man het sommige oggende tot 02:00 nog houtborde geskuur, geplak en verpak om te koerier. Ek het bestellings gekry van oor die land heen, en ek kry steeds tot vandag toe nog bestellings oor die land heen.”

Helena vertel sommige maande is besiger as ander, maar dat dié nuwe werk hulle waarlik deurgedra het.

Sy vertel ook sy doen nie net diere nie, alhoewel baie mense se persepsie is dat sy net diere se foto’s doen.

Só het Helena se Facebook-blad in die laaste jaar geweldig gegroei. Sy sê sy mik op die oomblik vir 10 000 volgelinge. “Dit beteken wel nog werk, maar ek geniet dit wat ek doen verskriklik baie. Ek raak opgewonde om mooi foto’s te kry wat ek kan gebruik en selfs ook lelike foto’s wat ek mooi kan maak en saam met die kliënt kan opgewonde wees oor hoe dit uitgekom het.”

Helena vertel Gianni het toe by sy werk bedank om haar met haar besigheid te ondersteun en ook daar te kan wees vir hulle seun na hy met diabetes gediagnoseer is. Haar besigheid kon hulle egter nie ten volle finansieel ondersteun nie, en so het Gianni met sy eie aanlyn besigheid begin om gevriesde kos te verkoop.

“Hy is ‘n halwe Italianer en’n uitstekende sjef! Die besigheid het ongelooflik gegroei.”

Helena vertel hoe hulle hard gewerk het en die kosbesigheid en die houtborde van die huis af bestuur het. “Maar ons hele familie het daaronder gely. Ons het nie meer familietyd gehad nie en ons het 24 uur gewerk!”

Die geleentheid het toe oor hulle pad gekom om hulle besigheid na ‘n perseel in die middestad te skuif.

“So het ons toe ons eie besighede begin in die Covid-19-jaar en steeds groei dit. Ons werk baie hard en soms voel dit mens wil opgee, maar ons gaan aan.”

“Ek haat dit eintlik as mense vir my sê alles gebeur met ‘n rede, maar tog glo ek hierdie keer het alles seker met ‘n rede gebeur. As dit nie vir Covid-19 was of vir my seun se diabetes nie, het ons albei steeds vir base gewerk en vir net ‘n salaris elke maand. Maar nou kan ons vir onsself werk en so iets opbou vir ons kinders eendag sodat hulle nie swaarkry nie. Ons is van plan om baie groot te gaan met dit was ons nou doen. Ons wil groot hoogtes bereik.”

Helena sê sy geniet haar werk verskriklik baie. “Die maak van die borde is vir my vreeslik lekker, maar wat ek die meeste geniet is as ‘n kliënt sê ek mag my eie idees gebruik. Ek hou daarvan om my eie ding te doen!”

Sy lag en sê sy sou nooit twee jaar gelede kon dink dat sy vandag sou wees waar sy is nie. “My tweelingdogtertjies word Desember twee jaar oud en ek het nie eers gedink dat ons twee jaar later nog sou lewe nie!”

Helena sê in haar vrye tyd hou sy daarvan om foto’s te neem van haar kinders en dit in fotoboeke te omskep en dat sy dit ook geniet om sommer net kunstig te wees.

“My boodskap aan die Bloemfontein-gemeenskap is om te sê dat elke huis sy kruis het. God voorsien elke dag. Op die nippertjie tree God altyd in as jy dink jy’s op jou laaste en laagste. Moet nooit neerkyk op iemand nie. Probeer om altyd ander mense te help op die beste manier wat jy kan, want dit kom altyd terug na jou toe. My boodskap aan elke opkomende entrepreneur is om nooit bang te wees om hulp te vra nie. As jy nie praat nie, sal mense nie van jou probleem weet nie. Jy sal verbaas wees hoe baie mense bereid is om jou te help as jy net praat. Dis iets wat my ma my geleer het.”