Boeke vir klein mensies

Deel hierdie storie / Share this story

Die volgende boeke is geskik vir kinders 0-6 jaar en word deur Human en Rousseau uitgegee. Ek het dit baie geniet om hierdie boeke te lees en glo dat kinders dit sommer baie opwindend sal vind. Mens kan nooit te vroeg begin om ’n kindjie aan boeke bloot te stel nie.

Nag, Pikkewyntjie en Nag, Hasie

Amanda Wood het hierdie pragtige slaaptydboeke (210 mm x 195 mm) geskryf as deel van haar babadierestories-reeks. Dit mooiste foto-illustrasies deur Bec Winnel komplimenteer die teks en laat die stories sprankel. Beide boeke is vierkantig en het hardebande wat dit perfek maak vir klein, onhandige handjies. Met voorlees in gedagte, is die teks wat 24 bladsye beslaan lekker klank- en verbeeldingryk, en daar is selfs plek vir die kind se naam. Die stories is ook leersaam, want dit beeld bv. heelwat van die gewone lewensgang van ’n klein pikkewyntjie en hasie uit.

In Nag, pikkewyntjie moet ’n pikkewyntjie agterbly toe sy ma en pa see toe moet gaan om vis te vang. Gelukkig ontferm ander pikkewyntjies hulle oor hom toe daar ’n storm kom en maak hy ’n klomp maats in die proses. Uittreksel: Toe hop hulle, en klap hulle vlerkies, en gly op hulle magies oor die ys.

In Nag, Hasie maak Muis vir Hasie touwys oor die dinge wat klein hasies behoort te weet. Gelukkig leer Muis haar ook wat om te doen wanneer gevaar dreig. Uittreksel: “Ons het jou pote voel stamp, en jou stertjie sien flits, en toe weet ons daar is gevaar,” sê die ander hasies. “Dankie dat jy ons van die jakkals gered het!”

Badboek / Bath Book

Hierdie klein badboekies deur Cuberdon –’n boek verpakker in België wat spesialiseer in kinderboeke – is in Engels en Afrikaans in Suid-Afrika beskikbaar. Die 125 mm x 125 mm-boekies sal definitief sorg dat bad- en speeltyd ook prettyd is. Dit is waterbestand met sagte plastiek omslae en bladsye. Elke boekie beslaan agt bladsye en op elke bladsy word die kind aan ’n dier bekendgestel, bv. ’n uil, dolfyn, sprinkaan, beer en seekat. Daar is vier boekies in die reeks getiteld Badboek: Uil, Badboek: By, Badboek: Lieweheersbesie en Badboek: Flamink.

Bogenoemde boeke is almal in die handel beskikbaar en kan ook bestel word op die uitgewer se webtuiste.