KWAZULU-NATAL. – Netcare 911 het omstreeks 06:01 Dinsdagoggend gereageer op ‘n oproep oor ‘n skietery in Templestraat in Kenville, Durban.
Volgens Shawn Herbst, woordvoerder vir Netcare 911, dui verslae daarop dat ‘n man beseer is toe hy deur ‘n venster geskiet is.
“Die man is deur gewapende mans geskiet na hy gesien het hoe sy pa in die oprit aangeval word.”
Paramedici het die pasiënt ondersoek en kon vasstel dat hy een skietwond aan sy bors opgedoen het.
Hy is op die toneel gestabiliseer en daar is met hom na die hospitaal gejaag vir verdere behandeling.
Die polisie was ook op die toneel.



