Dunlop se Nardus Ferreira

Deel hierdie storie / Share this story

Nardus Ferreira (41) werk al 24 jaar by Trevor’s Wheel & Tyre en dié week gesels hy met Kimberley Online Co. oor sy werk, kliëntediens en sy persoonlike lewe.

Gebore op Middelburg in Mpumalanga, het hy op sesjarige ouderdom saam met sy ouers na Kimberley verhuis. Hy woon al 35 jaar in Kimberley.

Nardus is al vir 18 jaar met sy pragtige vrou, Magda Ferreira, getroud, maar die paartjie ken mekaar al 27 jaar en het twee seuns, Hardus (16) en Marnus (6).

Nardus werk as ’n verkoopsman en sê sy werk is elke dag uitdagend en nooit vervelig nie.

“Dit is vir my vreeslik lekker om elke dag op te staan en te weet ek kan my kliënte gelukkig hou en gatskop vir die dag.”

Hy sê ook kliëntediens is vir hom uiters belangrik.

“Dit is belangrik dat jy vriendelik moet wees. Jy moet jou kliënte ken en hulle belange op die hart neem. Om ’n kliënt gelukkig te sien met die diens wat jy lewer, is die toppunt.”

Kimberley Online Co. kry gereeld mense wat vir ons van Nardus se goeie diens vertel en hy sê dit is vir hom lekker om te hoor as ’n kliënt vir hom dankie sê.

“Dit is lekker as ’n kliënt vir jou dankie sê vir als. Dit maak my hart so bly, want ek weet hy kom dan terug. Daar is baie mense wat sal sê dié man ken net sy storie. Baie dankie aan al my kliënte.”

Nardus en sy gesin.