Tiaan en Christo: Kimberley se diere-oppassers

Deel hierdie storie / Share this story

Tiaan (19) en Christo Erasmus (17) is twee boeties wat op ’n jong ouderdom hulle eie besigheid begin het deur mense se diere en huise op te pas terwyl hulle met vakansie is.

Albei is in Pretoria gebore, maar het kort na Christo se geboorte saam met hulle ouers na Kimberley verhuis.

Christo is ’n gr.11-leerling aan Hoërskool Adamantia en Tiaan is ’n onderwysstudent aan die Sol Plaatje-universiteit.

“Ons het so vier jaar gelede begin dink aan iets om ekstra sakgeld te verdien, maar ons was nog te jonk om te kan werk by restaurante ensovoorts.  Toe het ons alreeds eintlik mense se huise opgepas, sonder om te besef dat daar ’n baie groot behoefte daarvoor is in Kimberley. Toe ons sien die navrae bly inkom, het ons dit meer voltyds begin doen.”

Die twee sê hulle is baie lief vir diere en het self ses honde wat soos kinders behandel word.

Tiaan het sy eerste studentekarretjie waarmee hy ry om na mense se diere om te sien en Christo het ’n motorfiets waarmee hy sy rondtes doen.

“Ons weet watter stres ons ouers altyd gehad het wanneer ons met vakansie gaan en ’n mens nie weet of die persoon wat na die huis en veral die diere moet omsien, dit regtig doen nie. Jy ‘worry’ tog heeltyd in jou agterkop daaroor en ons het al slegte stelle afgetrap met mense wat nie betroubaar was nie. Daarom wil ons hê mense moet met geruste harte kan vakansie hou en weet hul huise en diere is goed versorg.”

Om ander mense se diere en huise op te pas, is nie altyd ’n maklike werk nie.

“Dit is soms baie harder werk as wat mense dink. Party mense het ’n hele bladsy vol instruksies oor watter kos wie moet kry, hoeveel pilletjies die kat moet kry, hoeveel milliliter water die blomme moet kry, ensovoorts. Ons het al baie vreemde versoeke gekry, maar ook al geleer om elkeen op sy eie manier te hanteer.”

Tiaan Erasmus
Christo Erasmus