Kimberley Karen Muir

Deel hierdie storie / Share this story

As gebore Kimberliet kon jy altyd as kind in die somer oor naweke of vakansies uitsien na die kristalhelder water van die groot swembad by Karen Muir. Jou voete het gebrand as jy, nat lyf en al, na die snoepie toe loop vir Wilson-toffies of ’n ysie. Almal was altyd skrikkerig vir die diep swembad en later, soos jy ouer geword het, het almal probeer om die bodem te raak.

Die Olimpiese grootte swembad het egter sy naam op ’n baie interessante manier gekry en is vernoem na Karen Muir, ’n Suid-Afrikaanse wêreldkampioenswemmer.

Sy is gebore en getoë in Kimberley en het aan die Hoërskool Diamantveld skoolgegaan, waar sy in 1970 gematrikuleer het.

Met die bynaam, Tepid Torpedo, het sy die jongste persoon geword om ’n sportwêreldrekord in enige sportdissipline te breek toe sy op 12-jarige ouderdom die rugslagrekord gebreek het.

Gedurende die daaropvolgende vyf jaar het Karen vyftien wêreldrekords opgestel in die rugslag in 100 meter, 200 meter, 110 meter en 220 meter. Sy het ook 22 Suid-Afrikaanse kampioenskappe en drie Amerikaanse nasionale kampioenskappe gewen. As gevolg van die sportboikot teen Suid-Afrika tydens haar aktiewe loopbaan, kon sy nooit aan ’n Olimpiese Spele deelneem nie.

Karen is verkies tot die International Swimming Hall of Fame in 1980. Nadat sy opgehou het om mededingend deel te neem, kwalifiseer sy aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat as n mediese dokter en praktiseer sy op die vasteland van Afrika. Sedert 2000 het sy as huisarts in Vanderhoof, British Columbia, Kanada gewerk.

Gedurende 2009 is borskanker by Karen gediagnoseer en is sy op 1 April 2013 in Mosselbaai op die ouderdom van 60 aan die siekte oorlede.