Parsons in Kimberley is genomineer as een van die besighede in die stad wat die beste kliëntediens lewer. Hulle glo die kliënt is koning!
Parsons, ’n huishoudelike toestel winkel, word besit deur Charles en Marie Parsons en is al van 1962 (59 jaar) op die markplein. Hulle het tans 38 werknemers in diens.
Marie Parsons het dié week met Kimberley Online Co. gesels en sê hulle werknemers is opgelei om te verstaan die kliënt is koning.
“Dit is as gevolg van die kliënte dat ons ons deure kan oophou en vir al ons mense kan werk aanbied. Dit is die kliënte wat die besigheid lewensvatbaar maak.”
Marie vertel alhoewel dit met almal tydens die pandemie swaar gaan, kon hulle tydens die moeilike tyd al hulle mense in diens hou en was dit nie nodig om enigiemand te laat gaan nie.
“Ons is lekker verras deur die nominasie en so ewig dankbaar vir al die ondersteuning met die jare.”
Sy sê ook hulle is baie trots op hulle personeel en elke persoon, van die bestuurders tot die persoon wat aflewerings doen, werk saam as ’n span.”



