Volgens inwoners moet jy hare op jou tande hê om in Petrusstraat in Hillcrest te woon. Die straat staan bekend as Rioolstraat weens die voortdurende rioolprobleme wat net eenvoudig nooit opgelos word nie.
Die rioolprobleem kom al vir ongeveer 25 jaar aan en die rioolpompstasie vir die gebied is al jare buite werking. Dit veroorsaak dat rioolwater in die veld agter die huise, in Petrusstraat self en in die huise in Petrusstraat, uitloop. Die rioolwater wat permanent in die straat lê, veroorsaak die verbrokkeling van die pad.
Inwoners is bang vir die gesondheidsrisiko wat dit inhou, sowel as die stank wat ondraaglik is.
Die Sol Plaatje-munisipaliteit het in 2019 gesê die kapasiteit van die rioolpompstasie is te klein vir die aantal mense in die woonbuurt, insluitend die hospitaal. Die munisipaliteit beplan om R30 miljoen te spandeer om dié stasie op te gradeer. Dit is ongelukkig ’n projek waarvoor geld nog bekom moet word.
Daar is tot op hede nog niks aan die probleem gedoen nie.
In Januarie 2020 het iemand ’n boom in een van die gate geplant in die hoop dat dit aandag op die probleem sal vestig.
In September 2020 het drie voertuie van die brandweer en munisipaliteit in die rioolwater in die veld agter Petrusstraat vasgeval toe hulle ’n veldbrand wou blus.



