Almal is gekonfronteer met hulle eie sterflikheid

Deel hierdie storie / Share this story

Eurika Smiles (43), ’n suster by Mediclinic Gariep, was van dag een af wat die Covid-19-pandemie uitgebreek het, by die Covid-saal betrokke.

Sy gesels dié week met Kimberley Online Co. oor hoe die siekte die lewens van gesondheidswerkers en so ook almal verander het.

“Toe die pandemie uitbreek, was dit skrikwekkend, want dit was ’n onbekende siekte en ons het nie geweet wat om te verwag of hoe ons dit gaan hanteer nie.”

“Met ander siektes was ons gemaklik en het presies geweet wat om te doen en hoe om dit te hanteer. Hierdie was ’n siekte wat ons eers gedink het net oorsee is en dat ons dit nooit werklik sou beleef nie. Veral nie in die Noord-Kaapse hitte nie.”

Eurika vertel ook hulle het nie geweet hoe die siekte pasiënte gaan affekteer en hoe hulle moet reageer nie.

“Met die eerste vlaag was dit baie rof, maar ek voel ons het dit as ’n eenheid baie goed hanteer. Ons het 33 beddens in die Covid-saal en elke bed was vol. Daar het met die eerste vlaag nie een pasiënt ingekom wat nie suurstof nodig gehad het nie. Al ons suurstofpunte was permanent in gebruik.”

“Daar was nie altyd genoeg personeel nie, maar ons het daardeur gekom. Dit het later makliker geraak om mense te assesseer en simptome raak te sien. Ons kon dan makliker dinge implementeer en pasiënte beter behandel.”

Sy beskryf Covid as ’n baie emosionele siekte, mense het baie ondersteuning nodig.

“Met die siekte word almal gekonfronteer met hulle eie sterflikheid. Wanneer ons oor die foon met pasiënte se families gepraat het, het van hulle sommer spontaan vir ons begin bid. Dit was vir my die mooiste gebaar en so betekenisvol dat die vreemdeling oor die foon vir jou sal bid.”

Eurika sê mens kon nooit seker wees of ’n pasiënt dit gaan maak of nie.

“Ek sê altyd vir my pasiënte: ‘Dit is jou werk om seker te maak jy haal asem; dit is my werk om seker te maak jy maak dit deur die siekte.”

“Dit is ‘n baie onvoorspelbare siekte. Sommige pasiënte wat sterk was en nie so siek nie, het dit nie gemaak nie en ander wat ek soms regtig gedink het dit nie gaan maak nie, het dit gemaak. Ek het wel agtergekom die pasiënte wat ’n negatiewe gesindheid gehad het, het nie so goed gedoen soos dié wat positief was nie.”

“Dit is wel so lekker om te sien hoe ’n pasiënt, sommige na maande, met waardering en verligting by die saal uitstap.”

Eurika vertel ook dat sy nie eintlik bang was om die siekte aan haar mense oor te dra nie.

“Ons het daagliks in die saal ons Bybelvers gelees. Ons het ook die mense herinner dat ons al ons PPE het en as ons die regte ding doen, soos hande was, ensovoorts, sal ons nie die siekte aan ons mense oordra nie. Ons het reeds geweet hoe om te voorkom dat aansteeklike siektes versprei.”

“Ons het soveel as moontlik sosiale distansiëring probeer hou, maar was tog ook daar vir die pasiënte. Wanneer jy so siek is en jy voel asof almal hulle nou van jou onttrek omdat jy siek is en jy glad nie jou familie kan sien nie, het jy iemand nodig om jou hand vas te hou en daar vir jou te wees.”

Eurika sê in September 2020 was daar ’n moeilike tyd vir die saal toe een van hulle personeellede Covid-19 opgedoen het en gesterf het. Dit het hulle vreeslik geraak, maar ook nader aan mekaar gebring.

Sy sê ook die siekte het definitief mense nader aan mekaar gebring en mense die waarde van familie en verhoudings geleer.

“The human spirit is so resilient. We think we won’t be able to make it. Just keep at it. If we pull together, we can make it. Somtyds dink ons iets is ’n einde, maar dan is dit eintlik net ’n nuwe begin.”