Ons gesels dié week met Cathryn van Zuydam, eenheidsbestuurder van die Multi ISE – Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein oor die uitdagings as verpleegster tydens die Covid-19-pandemie.
Cathryn is 33 jaar oud en verpleeg al vir 10 jaar by Rosepark-hospitaal. Sy het in 2010 haar gemeenskapsdiens by die Nasionale Distrikshospitaal voltooi en in Februarie 2011 by die multi-intensiewesorgeenheid begin werk.
Cathryn vertel dat sy aanvanklik na skool nie seker was wat sy wou doen nie en dat verpleeg nie haar eerste opsie was nie. “Maar toe ek in my eerste jaar begin het, kon ek myself nie in enige ander beroep indink nie. Ek het nie gekies om ‘n verpleegster te word nie. Dit het my gekies.”
Sy vertel hoe onseker sy aan die begin van die pandemie was toe sy geweet het dat sy een van die voorsteliniestryders moes wees. “Jy het geen idee gehad wat om te verwag nie. Wat almal gedink het net ‘n verkoue was, het verander in ‘n siekte wat mense meer vrees as enige ander siekte.”
“Covid-19 is so onvoorspelbaar en dit ontwikkel so vinnig. Nie een van die golwe is dieselfde as ‘n vorige een nie, en dis wat dit so skrikwekkend maak. Met ander siektes het jy ‘n idee van wat jy moet doen en van hoe die pasiënte op behandeling gaan reageer. Maar met Covid-19 is dit anders. Elke pasiënt is anders en reageer anders.”
“Ons het almal gedink dat dinge ná die tweede golf na byna normaal sou terugkeer, maar toe tref die derde golf ons en pasiënte was sieker en personeel was uitgeput na hulle die eerste twee golwe moes bestry. Ons is tot op ons limiet gestrek. Ek hoop nou net dat Covid-19 sal weggaan, maar in werklikheid weet ons dat ons nog vir ‘n rukkie daarmee moet saamleef.”
Sy sê baie van die pasiënte met wie sy te doen kry, is baie bang as hulle Covid-19 opdoen en baie glo dat as jy in die hospitaal opgeneem word met Covid-19 jy nie lewend daar sal uitstap nie. “Veral wanneer hulle in die intensiewesorgeenheid opgeneem en geventileer moet word. Ons moet ophou dink Covid-19 is net ‘n verkoue of griep, veral as jy ‘n jong, gesonde persoon is. Jy weet nie watter chaos die virus in jou liggaam mag veroorsaak nie.”
Cathryn sê dis vir haar baie belangrik om iets in jou vrye tyd te doen wat jou gedagtes weg van die werk kan neem. “Verpleegsters neem soms hulle pasiënte saam met hulle huis toe, al is dit net in hulle gedagtes. Ek self speel klubhokkie en muurbal. Ek probeer ook my kop skoon kry deur bietjie tyd in die natuur deur te bring. Ek is baie passievol oor visvang en ek maak ook ‘n punt daarvan om by my ouers op hulle plaas in die Oos-Vrystaat te gaan kuier. Dis belangrik om tyd te maak vir vriende en familie, want hulle is die mense wat jou ‘sane’ en gegrond hou.”
Sy vertel hoe sy en ander verpleegsters die pasiënte in die hospitaal bystaan en hulle laat verstaan dat hulle nie alleen is nie. “Selfs al het hulle nie familie by hulle nie, raak ons hulle familie. As dit moontlik is, laat ons families vir ‘n vinnige besoek by die intensiewesorgeenheid toe of ons hou ‘n video-oproep.”
Cathryn sê dit neem baie om positief te bly, aangesien hulle daagliks só na aan lewe en dood werk. Sy sê dit raak veral moeilik wanneer jonger mense sterf, want dis tragies om te sien dat hulle volle potensiaal nooit bereik sal kan word nie.
Een van die laagtepunte wat Cathryn in die laaste twee jaar ervaar het, is dat daar steeds mense is wat glo dat Covid-19 nie bestaan nie. Dat daar mense is wat nie wil glo nie dat die video’s van mense wat basies versmoor, die waarheid is. “Vra net ‘n verpleegster,” sê sy. “Hulle het dit eerstehands ervaar en vertrou my, dis nie iets wat jy elke dag van jou lewe wil beleef nie.”
Sy sê sy deel graag ‘n paar hoogtepunte. “Die eerste pasiënt wat ons van ECMO af kon kry, was ‘n ongelooflike gevoel. Veral vir ‘n hospitaal wat meer in die ‘platteland’ is. Dan, die families en pasiënte wat ons by die eenheid kom bedank na hulle ontslaan is. Dis wonderlik om te sien hoe anders hulle lyk as hulle nie siek in ‘n hospitaalbed lê nie!”
Cathryn vertel die langste wat ‘n pasiënt al in die hospitaal opgeneem was weens Covid-19, is meer as 220 dae. Wanneer so ‘n langtermyn-pasiënt dan uiteindelik ontslaan word, is verligting een van die eerste gevoelens wat sy ervaar.
“Wanneer jy vir so lank na ‘n pasiënt omsien, is dit asof iemand vir jou ‘n baie kosbare edelgesteente gegee het waarna jy mooi moet kyk tot die eienaar dit weer by jou kom haal. Jy wil net seker maak die pasiënt kom tuis op so ‘n manier dat hy/sy in staat is om vinnig weer heeltemal gesond te raak. Wanneer enige van ons pasiënte op dié manier ‘n ‘tweede kans’ kry, wens ek dat hulle weet hoe gelukkig hulle is, dat hulle ‘n lewende wonderwerk is. Dis ‘n ongelooflike gevoel om te weet dat jy ‘n verskil in daardie persoon se lewe gemaak het, selfs al was dit met iets kleins.”
Cathryn, wat gelukkig self nog nie familielede of vriende aan die dood moes afstaan weens Covid-19 nie, sê elkeen het maar sy eie manier om die dood van ‘n pasiënt te hanteer. “Dis nie lekker as iemand aan Covid-19 doodgaan nie. Dis nie ‘n kalm en natuurlike ervaring nie. Jy doen wat jy kan om hulle lewens te red. Jy doen jou bes om die personeel wat met die pasiënt gewerk het en die pasiënt se familie te ondersteun. Ek glo nie dat ons al regtig die tyd gehad het om die dood van ons pasiënte te verwerk nie.” Sy sê die manier waarop sy dit verwerk, is om met iemand te praat. “As verpleegsters praat ons meestal met mekaar omdat die ander ‘n idee het van waardeur jy gaan.”
Haar hospitaalspan ondersteun mekaar op ander maniere ook en probeer mekaar help waar hulle kan. “Ek is ‘n ‘giver'”, vertel sy. “Ek hou daarvan om gereeld vir die personeel koffie, koeldrank en ander goed te neem. Ek glo ook dat lag die beste medisyne is, so ek deel gereeld iets wat ‘n glimlag op my kollegas se gesigte kan sit.”
Cathryn sê verpleegsters van regoor die wêreld sit met dieselfde frustrasies en uitdagings. “Dis die klein goedjies wat saakmaak in die lewe. Sommige van die ander personeel het soms in die intensiewesorgeenheid kom help, selfs al was dit net om die pasiënte te help voer of te was. Dit het soveel vir ons beteken dat mense uit hulle gemaksone kom om ons en die pasiënte te help.”
Cathryn sê as jy met Covid-19 kort van asem is of sukkel om asem te haal, erge drukking op jou bors ervaar, duiselig voel, flou word, as jou familie sien dat jy deurmekaar is, as jy sukkel om te praat of as jou lippe of gesig blou raak, is dit beter om hospitaal toe te gaan.
As Cathryn ‘n boodskap aan die families van pasiënte wat nie by hulle geliefdes in die hospitaal kan wees nie, kan oordra, sal dit wees:
“Niks rondom Covid-19 is normaal nie. As gesondheidswerkers verstaan ons dat dit frustrerend kan wees, want in normale omstandighede kan jy jou geliefde ten minste gereeld sien. Die verpleegpersone in die multi-ICU doen nog altyd hulle bes om families van pasiënte in die moeilikste tye te ondersteun. Dis ook moeilik om vir families oor die foon inligting te gee oor ‘n geliefde se toestand, aangesien die POPI-wet nou ingestel is. Alhoewel ons alles van die pasiënt vir elkeen van sy familielede sou wou sê, raai ek aan dat een familielid genomineer word met wie die hospitaal kontak kan behou om hulle ingelig te hou oor die pasiënt se toestand.”



