Nog ‘n nuwe party het onlangs die lig in Namakwaland gesien.
Dit is die National Economic Fighters (NEF) van Dawid Markus. Hy is ‘n parapleeg van Hondeklipbaai. Markus is al vir jare ‘n bekende en vurige aktivis vir die regte van die plaaslike arm delwers.
Hy glo hulle is nie onwettige delwers nie, maar diggers soos hulle bekend wil staan.
Markus het die party ‘n paar maande gelede gestig. Hulle gaan voorlopig slegs in vier van die ses gebiede binne die Namakwa-distrik aan die verkiesing op 1 November deelneem.
Dit sluit die Kamiesberg-, Nama Khoi-, Richtersveld en KhaiMa-munisipaliteite in.
Hy het Vrydagoggend gesê: “Die NEF is uit armoede gestig, want ons beleef grootskaalse verarming. Ons veg nie net vir die delwers nie, maar vir almal in ons land, Namakwaland. Ons sal wetgewing verander sodat die diggers toegang kan kry tot ons hulpbronne, soos byvoorbeeld die diamante.”
Markus is ook die president van die NEF, het hy verder aan OFM-nuus gesê.



