“Puppy scammers” wat blyk om geregistreerde babahondjies van verskeie honderasse te verkoop, is deesdae die internet vol, maar meer en meer mense word ’n rat voor die oë gedraai deur oënskynlike telers van die Kimberley-area.
Die “puppy scammers” blyk nie regtig van Kimberley te wees nie, maar skelms gebruik dit as ’n rookskerm omdat dit in ’n afgeleë gebied is en die meeste kopers van groot stede soos Kaapstad en Pretoria kom.
Die “scammers” trek glo foto’s van babahondjies van die internet af en adverteer dit op platforms soos Facebook en Gumtree. Mense wat dan in die hondjies belangstel, word gevra om ’n deposito te betaal om hulle hondjie te bespreek of die volle bedrag plus vervoerkostes te betaal om die hondjie te kry. Nadat die geld oorbetaal is, kry mense net nooit weer die teler in die hande nie en die hondjie daag net nooit by sy nuwe huis op nie.
In ander gevalle wanneer mense deposito’s betaal om ’n hondjie te bespreek en hulle dan na die hondjies wil gaan kyk, neem die ligging wat deur die teler gestuur is, hulle na ’n leë erf of die kopers daag by ’n huis op waar die eienaars geen benul het van wat aangaan nie.
Altesaam 49 mense het op FiND iT se navraag op die Facebook-groep Geregistreerde Hondjies/ Registered Pups reageer en gesê hulle is òf so verkul òf amper so verkul deur slenters deur telers wat voorgee om in die Kimberley-area te wees.
Op die Facebook-groep Puppy SCAMS in South Africa is ook talle potensiële kopers wat deur “Kimberley-telers” verkul is en ander wat waarsku teen hondjies wat valslik blyk om in die Kimberley-area beskikbaar te wees.
Hier is hoe jy kan oplet of iets ’n potensiële verneukspul is:
- Die prys van die hondjie is te goed om te glo.
- Die hondjie is verniet as jy vervoerkostes betaal.
- Jy kan nie die hondjie self gaan oplaai nie, dit kan net na jou toe vervoer word.
- Jy moet geld met ’n banktransaksie oorbetaal.
- Nadat jy betaal het, kom daar ewe skielik ekstra kostes by.
- Die verkoper vertel vir jou ’n harsteer storie oor hoekom die hondjie te koop is.
- Die verkoper sê hy/sy is nie eintlik ’n teler nie, die hond het net ’n onverwagse werpsel gehad.
- Die babahondjie se foto word in ander advertensies ook gebruik.
Hoe om seker te maak ’n teler is die ware Jakob:
- Die teler kan ’n registrasienommer by ’n unie soos KUSA (Kennel Union of Southern Africa) verskaf.
- Jy of iemand in daardie area kan namens jou na die werpsel gaan kyk.
- Die teler is goed ingelig oor die ras.
- Die teler vra jou verskeie vrae oor jou leefstyl, familie ensovoorts.
- Die teler is nie bereid om babahondjies voor ’n sekere tydperk na ’n nuwe huis toe te stuur nie.
- Die teler is bekommerd oor die hondjie se welstand.
LEES OOK: Man se liggaam langs pad gevind



