Dr. Gert Horak (77), ‘n bekende leraar van Bloemfontein, het verlede Saterdag sy stryd teen limfoom-maagkanker verloor.
Hy is in die Life St. George’s-hospitaal in Gqeberha oorlede ná hy na Gqeberha gereis het sodat hy die toewyding van sy dogter, Melissa Horak, se dogtertjie Kaylee in die kerk by pastoor Deon van der Merwe kon doen.
Melissa sê haar pa het by Hoërskool Diamantveld in Kimberley gematrikuleer en het daarna aan die Universiteit van Suid-Afrika teologie studeer. Hy het daar ook sy doktorsgraad verwerf.
Dr. Gert was vir 46 jaar by die Bromtonweg-gemeente voor hy afgetree en in Mei 2016 die Endeo-gemeente gestig het.
Sy begrafnis het Donderdag om 12:00 plaasgevind en daar was ook ‘n skakel op YouTube vir mense om na die diens te kyk.
Dr. Gert laat sy vrou, Jean, sy dogter, Melissa, sy seun, Etienne en kleinseun, Cornu, agter.
Archeline Nel het op Facebook ‘n boodskap aan dr. Gert opgedra.
“Vandag het ‘n groot seder geval! Dit is so hartseer. Ek dank die Here vir dr. Gert Horak se inspraak in my lewe. Hoe hy die Woord kon oopbreek, die Woord wat hy gebring het, sy Woordskool wat hy aangebied het. Ek sal nooit kan sê ek het nie geweet nie. Hy het my geleer! Hy het by sy Vader gehoort en nou is hy by sy Vader, wat hy onvoorwaardelik liefgehad het. Dok, jou plek is leeg, maar jou nalatenskap sal voortleef!”



