‘Ons is almal ewig dankbaar’ sê ma oor geld ná seun gif drink

Deel hierdie storie / Share this story

Dit gaan baie goed met LJ de Lange (9) wat Donderdagmiddag in die hospitaal beland het toe hy per ongeluk gif wat in ‘n Powerade-botteltjie was, gedrink het.

Sy ma, Lezannè Rossouw, het aan FiND iT bevestig LJ word binnekort uit die hospitaal se intensiewesorgeenheid na ‘n gewone saal oorgeplaas. “Sy niere en sy lewer is die goed waaroor die dokter bekommerd was, en die dokter sê nou dit lyk goed.”

LJ is inderhaas na die hospitaal gejaag toe hy kort na hy die gif gedrink het, bleek geraak en begin rondval het. Hy moes voeding deur ‘n buis ontvang het, maar dié buis is intussen verwyder.

Duisende Suid-Afrikaners het in ‘n kort tydjie ná Rossouw haar na Facebook gewend het om die deposito van R120 000, wat deur die hospitaal vereis is voor hy opgeneem kon word, in te samel, geskenk om hom te help.

“Hy lyk weer na sy ou self,” sê Rossouw.

“Ons wil baie dankie sê vir elke mens se oproep, SMS, gebed en geldjie wat inbetaal is. Dis wonderlik om te sien hoe mense kan saamstaan in ‘n tyd van nood. Ons is almal ewig dankbaar!”

Lees die vorige berig hier.