Genoeg ingesamel om LJ in privaat hospitaal te sit

Deel hierdie storie / Share this story

Die negejarige LJ de Lange wat per ongeluk gif gedrink het en in die hospitaal opgeneem is, kon gisteraand ná verskeie mense hulle harte en beursies oopgemaak het, na ‘n privaat hospitaal oorgeplaas word.

LJ se “tube” is uitgehaal en Lezannè sê dankie vir almal wat omgee en gehelp het om die geld in te samel.

Sy ma, Lezannè Rossouw, het gister huilend aan FiND iT vertel dat hulle Vrydag agtergekom het die mediese fonds waarby hulle in September aangesluit het, is ‘n “klug” en dat hulle nou dringend R120 000 moet insamel vir LJ om by ‘n privaat hospitaal opgeneem te kan word om die nodige mediese behandeling te kry.

“My hondjie se vel gee probleme en ‘n vriendin van my het vir my ‘dip’ gegee vir ons hondjie se vel. Sy het dit vir my sommer in ‘n Powerade-botteltjie gegooi.”

Rossouw sê sy het gister ‘n klomp draaie gehad om te ry. “My seuntjie was in die kar en toe ek by die hek uitry, het ek gesien hy sluk van die gif. Hy het dit dadelik uitgespoeg.”

Rossouw sê sy het onmiddellik vir LJ gesê om sy mond met water te gaan uitspoel en nie eers sy spoeg in te sluk nie, maar kort voor lank het hy bleek geraak en begin rondval.

“Ons het hom dadelik na die ongevalle-eenheid by die staatshospitaal in Wolmaransstad geneem, waar hulle hom met ‘activated charcoal’ behandel het.”

Toe Rossouw en haar man tyd gehad het en kon kyk na die mediese fonds waarby hulle in September aangesluit het, het hulle “besef dis ‘n klug”.

Sy vertel huilend hoe sy vir ‘n ander vrou in die hospitaal se kleinkind ‘n lekker en ‘n pakkie tjips gegee het. “Ek het my goeie daad gedoen, soos wat ek nog altyd doen. Ek weet ons sal die hulp kry wat ons nodig het.”