SA op vlak een van inperking: Wat jy moet weet

Deel hierdie storie / Share this story

President Cyril Ramaphosa het Donderdagaand in sy toespraak met Suid-Afrika gepraat oor die Covid-19-inenting, die land se nuwe vlak van inperking en waar die land nou staan in die geveg teen die virus.

Hy het verder gesê die spoed waarteen Suid-Afrikaners ingeënt word, is te stadig. Daarom is daar besluit om die VOOMA-inentingsnaweke in te stel. “Dis moeilik vir diegene wat nie in die week kan gaan om die inenting te kry nie, vir diegene wat ver moet ry of wat familieverantwoordelikhede het.”

Daarom sal op 1 Oktober en 2 Oktober inentingsareas geïdentifiseer word om soveel moontlik Suid-Afrikaners die geleentheid te gee om ingeënt te word.

Suid-Afrika is op 12 September op aangepaste vlak 2 van inperking geskuif en president Cyril Ramaphosa sê die inperkings kan nou verslap word.

Suid-Afrika sal van Vrydag 1 Oktober af op vlak een van inperking wees.

Die aandklokreël sal van 12:00 tot 04:00 geld.

Nie-essensiele besighede soos gimnasiums en restaurante mag tot 23:00 oop wees.

Die maksimum hoeveelheid mense wat begrafnisse mag bywoon, is nou 100. Byeenkomste ná begrafnisse word steeds nie toegelaat nie.

Die maksimum persone binnenshuis toegelaat is nou 750; die maksimum vir buitenshuis is 2000. In kleiner venues word 50% kapasiteit toegelaat.

Alkoholverkope mag volgens normale ure verkoop word, maar geen alkohol mag na 23:00 verkoop word nie.

Maskers moet steeds in openbare plekke gedra word en dit bly steeds ‘n misdaad as jy dit nie dra nie.