Man gesoek na verkragtingsvoorval in Beaconsfield

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) het ‘n soektog begin na ‘n man na ‘n verkragtingsvoorval in Beaconsfield, Kimberley.

“Die slagoffer het beweer sy het Vrydag, 17 September omstreeks 21:00, toe sy by haar woning aankom, ‘n onbekende man aangetref wat ‘n balaklawa en ‘n gesigmasker gedra het. Hy was naby die hek van haar woning,” sê kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder.

Die onbekende man het glo die slagoffer gegryp, haar met ‘n vuurwapen gedreig en na ‘n oop veld gesleep, waar hy haar verskeie kere verkrag het. Die slagoffer het ‘n steekwond in haar rug, onder- en bolyf opgedoen.

Slagoffer soek hulp na verkragtingsvoorval in Beaconsfield

Na die voorval het die slagoffer hulp gaan soek.

Die GKS-eenheid in Kimberley vra die hulp van die gemeenskap om die manlike persoon op die foto, wat deur die polisie verskaf is, op te spoor of te identifiseer.

Hy is in sy vroeë dertigs, praat vlot Afrikaans, is lank en lig van kleur.

Inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagte kan lei, kan aan speurder-konstabel Mario Setholow by 073 8949 934 of 082 3020 473 aangemeld word. Crime Stop kan ook by 08600 10111 gekontak word.

LEES OOK: NK-brande: sover meer as 43 000 hektaar grond vernietig

LEES OOK: Pastoor skuldig aan 19 aanklagte van verkragting

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.