Noord-Kaapse Dept. van Ekonomiese Ontwikkeling moet onder administrasie geplaas word

Deel hierdie storie / Share this story

Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap versoek dat alle amptenare wat vandeesweek gearresteer en van bedrog, oortreding van die Diamantwet en oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur aangekla is, en wat steeds in diens is van die provinsiale regering, onmiddellik geskors moet word. Dit is in verband met die inhegtenisneming van die voormalige departementshoof, Patrick Seboko, die senior projekspanbestuurder, Tebogo Basil Gaborone, die hoofdirekteur van handel en sektorontwikkeling, Lizette Wyngaard, en die waarnemende finansiële hoof, Kuberin Packirisamy. 

Boonop doen ons ‘n beroep op die premier, dr Zamani Saul, om die departement van ekonomiese ontwikkeling onder administrasie te plaas. 

Die departement is deurspek met korrupsie wat minstens ‘n dekade lank teruggaan. Baie rolspelers is glo betrokke by talle bewerings wat verband hou met korrupsie, wat strek van die vermiste diamante tot die bedfabriek, die Maloof Money Cup wat na die Kimberley Diamond Cup verander is, die Flamingo Park Race, en nog vele meer. 

Baie van die korrupsieverwante aantygings oorvleuel ook met die tyd van die voormalige LUR vir ekonomiese ontwikkeling, John Block, wat tans in die tronk is weens ander strafsake. 

Dit is duidelik dat oral waar hierdie departement betrokke raak, geld vermors word en dat daar geen werklike ekonomiese ontwikkeling of groei plaasvind nie. Dit is duidelik dat hierdie departement tot in die kern vrot is. 

As dr Saul ernstig is oor die bestryding van korrupsie, sal hy geen tyd mors om toe te sien dat diegene wat by die diamantsaak betrokke is, onmiddellik uit enige invloedsposisie binne die provinsiale regering verwyder word nie. 

Hy moet ook die ketting van korrupsie breek binne die departement van ekonomiese ontwikkeling, wat deur selfverrykende diewe vasgevang is. In hierdie opsig moet dr Saul dringend daarna streef om die kabinet te oortuig om ‘n artikel 100 (1) (b) intervensie te implementeer. 

Die DA sal hierdie saak en verwikkelinge binne die onderskeie departement noukeurig monitor. Ons herhaal ook ons beroep dat fluitjieblasers beskerm word, aangesien meer en meer besonderhede rakende korrupsie in die Noord-Kaap, aan die lig kom.

*Persverklaring

Lees ook: DA members hijacked in KZN, vehicle set on fire

Volg FiND iT hier.