Die 52-jarige Nadine Gouws is op 9 September vir ‘n tweede keer in die hospitaal in Bloemfontein opgeneem waar sy vir Covid-19 behandel is tot sy op 19 September oorlede is.
Haar dogter, Tamika Müller, sê haar ma word vandag begrawe.
Nadine was vir ongeveer vyf jaar ‘n sekretaresse by Hoërskool Jim Fouché en het voorheen konsessies by ‘n hoërskool in Randfontein gedoen.
“My ma was maar ‘n rots vir ons almal. Sy het altyd geweet as daar iets verkeerd is, want sy het opgelet as daar ‘n verandering in jou bui, gewoontes of selfs in jou werk was. Sy het altyd omgegee oor ander en probeer help as hulle deur ‘n moeilike tyd gaan.”
Tamike sê haar ma het ‘n hart van goud gehad. Sy vertel hoe haar ma haar deur universiteit gehelp het. “Sy het altyd haar beste gedoen om my te help, al het sy nie die werk verstaan nie. Dieselfde met my broer toe hy op skool was. Al was dit net om iets te ‘print’.”
Nadine was vir 12 jaar verloof aan Kevin van der Schyff en hulle sou in Desember trou.
“Mense het altyd vir my gesê jy kan in haar oë sien sy is ‘n mooi mens van binne en buite.”



