Met die stygende temperature bring swem in koel water welkome verligting. Maar verdrinking is altyd ’n risiko by riviere, strande, damme en swembaddens.
Spesiale sorg moet geneem word by geïsoleerde damme, riviere en op plase en in landelike gebiede, veral na swaar reën in die omgewing. Selfs ’n klein opblaasswembad of emmer vol water is ’n moontlike gevaar vir kleuters as hulle nie onder toesig is nie.
Wenke vir waterveiligheid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens:
- Die belangrikste reël is dat almal water en sy omgewing moet respekteer;
- Lees en gehoorsaam altyd raad, dit is vir jou veiligheid;
- Weet waar om hulp te kry;
- Alkohol en waterveiligheid gaan nie saam nie. Alkoholmisbruik benadeel jou sintuie en oordeel. Dit is onverantwoordelik om ander in gevaar te stel;
- As jy nie opgelei is in lewensreddings- of reddingstegnieke nie, gebruik ’n geskikte voorwerp (bv. ’n leë koelerboks) om ’n persoon in die moeilikheid te help en hulp te ontbied;
- Opblaasbare motorbinnebande en lilo’s is gevaarlik omdat dit jou ’n vals gevoel van veiligheid en sekuriteit gee;
- Jong kinders moet voortdurend onder toesig wees wanneer hulle naby water is, selfs tydens badtyd;
- Die gevaarlikste tyd tydens ’n piekniek is by aankoms wanneer ouers uitpak en kinders dit waag om hul omgewing te ontdek. Kinders het ’n onweerstaanbare aantrekkingskrag vir water;
- Moet nooit alleen swem nie;
- Moenie iemand in die water instamp nie;
- Maak seker dat die waterdiepte geskik is vir swem en duik;
- Moet nooit in modderige of troebel water duik nie;
- Moenie swem tydens ’n storm nie.



