Deana leef haar passie uit én maak alle geleenthede spesiaal

Deel hierdie storie / Share this story

Bloemfontein Online Co. gesels met Diana Rossouw (31) wat Little Cake Factory in Bloemfontein in 2020 by haar ma oorgeneem het en nou haar passie vir koekbak uitleef.

Deana en haar man, Niel, het twee bondeltjies liefde, Line (5) en Leroux (2).

“Voor ek die besigheid by my ma oorgeneem het, was die besigheid my ma, Joan, s’n. Tydens ‘lockdown’ wou my ma die besigheid toemaak. Ek en my man het toe besluit om dit oor te koop. Ek het die naam verander na Little Cake Factory om dit my eie stempel te gee.”

Deana vertel om koek te bak, kos te maak en funksies te beplan, was van jongs af deel van haar lewe.

“Ek het grootgeword in ‘n huis met uitgewerkte resepte en elke jaar met ons verjaarsdae ‘n droomkoek en partytjie.”

“Tydens skoolvakansies en toe ek klaar was met skool, het ek tydens my studies altyd saam met my ma by die besigheid gewerk en dit was nie net meer ‘n liefde nie; dit het ‘n passie geword.”

Little Cake Factory bak koeke vir enige geleentheid. Deana vertel sy het al vir geslagsonthullingspartytjies, babatees, dope, verjaarsdae, verlowings en troues koeke gebak. “Ons bak enige spesialiteit- of geleentheidskoek. Ons doen ook ‘cupcakes’, ‘cake pops’, koekies, partytjie-pakkies, ‘platters’ en nog vele meer. “

Volgens Deana is een van die grootste uitdagings van haar werk tydsbestuur en beplanning. “Die rede daarvoor is dat ‘n mens nooit weet wat die week vir jou inhou nie. Maar dis ook die lekkerste. ‘There is never a dull moment!’ Elke week en sy uitdagings is anders, want elke bestelling én elke kliënt is uniek.”

Deana sê daar is ‘n paar koeke wat sy al moes bak wat vir haar uitstaan, maar dat sy die koeke wat die grootste uitdagings bied, die meeste geniet.

Ek bak so ±30 geleentheidskoeke per week en so 80 tuisnywerheidskoeke,” vertel sy. “Die bedryf hang baie af van seisoen. Wanneer dit troutyd is, doen ons tussen vyf en agt troukoeke per week. Elke maand verskil. Met geleenthede soos Valentynsdag, Moedersdag en Vadersdag is ons ook druk besig. Ons doen ook groot bestellings vir besighede en skole.”

Deana sê sy bak nie sommer vir haarself ‘n spesiale koek nie, maar wel vir haar kinders se verjaarsdae.