Hierdie fantastiese boeke vir kinders 6-9 jaar oud bevat verskeie kunsaktiwiteite. Die beste van alles is dat kinders niks meer as slegs leë toiletrolle benodig nie, want al die kleurvolle elemente en plakkers is ingesluit by die boeke. Kinders moet wel hulle eie verf hê indien hulle die leë toiletrolle wil voorberei met ’n wit onderlaag en daarná ook in ’n kleur wil verf wat by die res van die dier wat hulle maak, pas.
Die aktiwiteite is hope pret en ook maklik om aan te pak. Klein handjies verander ’n vaal ou kartonbuis sommer in ’n japtrap in ’n wonderlike, kleurvolle dier waarmee hulle vir ure sal speel. Wys jou net, kinders kan slim word met min! Hierdie projekte is nie net ideaal om in die klaskamer te gebruik nie, maar ouers en versorgers kan dit gerus aanskaf om die kinders tuis mee besig te hou op ’n konstruktiewe en leersame wyse. Die boeke is in Afrikaans en Engels beskikbaar.
“Kreatiewe kuns met toiletrolle” (boek 1 en 2) en “Creative crafts with toilet paper rolls” (book 1 and 2) word uitgegee deur Human & Rousseau. Agnieszka Niedzwiadek is verantwoordelik vir die papierkuns en illustrasies en Cécile Marbehant het vir die kreatiewe grafiese ontwerp gesorg. Die boeke is oorspronklik uitgegee deur Éditions Caramel, ‘n Belgiese kinderboekuitgewer. – Louise Viljoen
Kry jou boeke by toonaangewende boekwinkels of bestel dit aanlyn:
Kreatiewe kuns met toiletrolle Boek 1
Kreatiewe kuns met toiletrolle Boek 2



