‘Om ’n afrigter te wees, het my lewe verander’

Deel hierdie storie / Share this story

Francois Theron (26), swemafrigter van die Flamingo Aquatics Academy, sê hy swem al sy hele lewe lank.

Gebore in Pretoria, het hy eers in Kemptonpark gebly, waarna hy na Kimberley verhuis het. Hy het daarna in 2005 na Bloemfontein verhuis, net om weer in Augustus vanjaar terug te keer Kimberley toe.

“Ek het met waterveiligheid begin toe ek ’n jaar en ’n half oud was. Daarna het ek geleer swem en by ’n swemklub aangesluit. Ek het van daar net nooit opgehou swem nie.”

Francois vertel hy was deel van die Flamingo’s toe hy klein was en dit is sy voorreg om nou jare later weer by hulle te kan aansluit.

“Die beste gedeelte van ’n afrigter wees, is om die gelukkigheid op die kinders se gesigte te sien wanneer hulle vir die eerste keer iets regkry of hulle eerste gala geswem het. Mens raak so deel van hulle lewens en met die swem help jy hulle nie net in die water nie, maar ook buite die water.

“’n Afrigter het my lewe verander en my gehelp met soveel meer as net swem. Dit is die tipe afrigter war ek ook wil wees.”

Behalwe swem het Francois ook ander stokperdjies.

“Ek was ’n DJ en het die klank en media by die kerk gedoen. Ek hou van fotografie en om net in die natuur te wees.”

Francois se advies vir jong swemmers is om net in jouself te glo.

“Glo in jouself en moenie na ander mense luister nie. Daar gaan baie mense wees wat gaan sê jy kan dit nie doen nie of dis onmoontlik, dan bewys jy hulle verkeerd. Stap die ekstra myl, omring jouself met mense wat dieselfde doelwit of dieselfde motivering as jy het om jou te help om saam mekaar se doelwitte te kan bereik. Doen dit vir jouself en nie vir iemand anders nie. Keep on fighting, never quit. If you can’t run, then walk. If you can’t walk, then crawl, but never stop moving forward.”