Debbie Conradie – Oe, Dis Mooi (ODM) Bloemfontein
Ons almal het altyd daai iets in jou huis waarvoor jy moeg is, maar te jammer is om weg te gooi…
Hoe nou gemaak? Maklik. Trek vir hom (letterlik) ‘n nuwe jas aan.
Vir my grootpoot-projek, het ek veertjie dubbellaag-servette gebruik. Die geheim van Modge Podge is om die produk waarop jy werk, ‘n wit onderlaag te verf. Hiervoor gebruik ek sommer PVA-verf. Die wit bring die kleur van die servette mooi uit.
Onthou om altyd die ekstra laag van die servet ook af te trek. Jy werk net met die boonste laag.
Sodra jou wit onderlaag droog is, kan jy begin om jou servet met ‘n klein kwassie vas te verf met ‘n mengsel van houtgom en water: 2/3 houtgom en 1/3 water baie goed gemeng.
Ek verkies om eerder met ‘n klein as te groot stuk servet op ‘n slag te werk.
Sodra dit droog is, kan jy ‘n laag vir beskerming bo-oor verf. Ek gebruik gewoonlik die Clear Gripseal-produk.
So, gryp die eerste ding wat jou irriteer en probeer dit gerus!
As jy enige navrae het, oor iets wonder of sommer raad soek, stuur ‘n e-pos na [email protected].



