September 19, 2021

‘Die grootste geheim is om net JY te wees’

'Die grootste geheim is om net JY te wees'

'Die grootste geheim is om net JY te wees'

Renier Moolman, kliniese sielkundige in Bloemfontein wat self met Arthrogryposis, ‘n tipe gestremdheid, gebore is, sê die sentrale doel van dit wat hy doen en wat hy in sy praktyk beoefen, is dat dit belangrik is om terug te kom na wie en wat jy werklik is.

“Elkeen van ons het ’n ware identiteit in ons en baie mense dink die doel van terapie en sielkunde is om te verander wie ons is. Maar die eintlike doel is om ons ware identiteit te vind.”

Die 32-jarige Renier vertel hoe hy voor skool al mal was oor sport en vasbeslote was om aan sport deel te neem. Toe dit tyd raak om vir hom ’n skool te kies, is hy eers na die opedag van ‘n skool vir gestremdes. “Toe ek daar was, het ek besef dat dit nie is waar ek wou wees nie. Ek het vir my pa gesê dis nie wie ek is nie en dat ek graag na ’n normale skool toe wou gaan.”

Renier vertel hy onthou sy pa het hom gevra of hy doodseker is dat dit is wat hy wou doen. “Ons het die woorde ‘differently abled’ gebruik. Hy het baie ernstig vir my gesê dat sou ek die normale skool kies, ek nie die gestremdheid-kaart sou kon speel nie en dat ek dit eenvoudig sou moes maak werk. Ek het vir hom gesê dis wat ek wou doen.”

“Ek het toe voluit gegaan en ek het op skool nooit ekstra tyd geneem om sekere dinge te voltooi nie en ek het al my pakslae gevat!”

Kort voor lank het Renier met akademiese kleure by Grey gespog, aan die debat deelgeneem, hokkie gespeel, krieket gespeel en koor gesing. Hy lag en sê dat hy net ’n bietjie te stout en woelig was om prefek of dux-leerling te raak, maar dat hy beslis nie enigiets gemis het nie.

Renier het na skool gedragskinetika gaan studeer en sy honneurs en sy meestersgraad in kliniese sielkunde voltooi. Hy het sedert 2015 sy eie praktyk en hy sien ook pasiënte by ’n rehabilitasiesentrum in Bloemfontein.

“Ek dink omdat ek baie ‘fights’ in my eie lewe gehad het, baie uitdagings moes uitoorlê en self weet presies hoe angs, depressie, selfbeeldprobleme en teleurstelling voel, het ek maar natuurlik ’n aanvoeling gehad daarvoor om mense te help en met mense te praat. Mense het altyd natuurlik teenoor my oopgemaak en om ’n sielkundige te raak, was maar amper die natuurlike keuse vir my.”

Renier is met Yolandi Moolman getroud en hulle het ’n pragtige babaseuntjie wat in Maart vanjaar gebore is.

“Om partykeer ’n pasiënt in die dorp raak te loop en te sien sy lewe is heeltemal omgekeer en ek kon ’n verskil maak in sy lewe, is vir my die lekkerste deel van my werk. Veral omdat ek baie met verslawing werk, om te sien hoe een ou kan nugter word en sy lewe verbeter, gee my ’n groot ‘kick’.”

“Die grootste uitdaging vir my is maar om balans te vind tussen ’n sielkundige wees en ’n mens wees. Om af te sluit by die huis, veroorsaak baie keer dat jy nie emosioneel by die huis beskikbaar is vir die mense in jou lewe nie. So om die balans te kry tussen jou lewe by die huis en jou lewe by die werk, is vir my die uitdagendste deel.”

“Die sentrale tema van alles in my lewe is dat jou identiteit nie bepaal word deur dit wat jy doen nie en ook nie dit wat die wêreld sê jy is as gevolg van wat jy gedoen het nie. Daar is ’n ware identiteit in ons almal, dit wie jy regtig is, wat ‘aligned’ is met jou ‘destiny’. Die grootste geheim is om net JY te wees. Jy kan nie minder of meer wees as wie jy regtig is nie. Jy moet JY wees.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *