September 16, 2021

Elize: nie jou gewone raadslid

“Ek word erken is iemand wat soms heeltemal te reguit is, maar ek het ook ’n sagte hart vir mens en diere wat swaarkry.”

Van polisielid tot raadslid

Van polisielid tot raadslid

Elize (Elizabeth) Niemann, bekende DA-raadslid van Ritchie, sê sy word woedend wanneer sy die vermorsing van geld sien en besef dat as die geld reg aangewend word, kan so baie mense se lewens positief verander word.

Gebore op Lichtenburg, in die Ou-Wes Transvaal, het sy op vyfjarige ouderdom saam met haar familie na Christiana getrek. Nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het, het sy in 1990 by die SAPD aangesluit.

Kort na sy haar opleiding in Pretoria voltooi het, is sy as jong konstabel na Warrenton verplaas.

“Hier het ek in 1991 my man, Jan Niemann, ontmoet terwyl hy vir Transnet gewerk het. Ek het gevra vir ’n verplasing na Postmasburg. Ek was op Postmasburg vanaf 1992 tot 2006. Ek was ’n uniformlid en het begin by skofte. Later skofbevelvoerder en toe het ek gegaan vir verdere kursusse en is opgelei as ’n “field training officer” en later ’n “field training supervisor”.  Ek was die reserviste-koördineerder en het later die persoon geword wat verantwoordelik was vir vuurwapen-en-drankbeheer by Postmasburg-SAPD. Ek was ook vir jare ’n unie-verteenwoordiger van SAPU.”

Albei Elize se susters was ook polisielede. Hulle middelsussie is in 2001 in ’n skietvoorval oorlede. Elize het Postmasburg verlaat nadat sy iemand geskiet het en dinge net vir haar emosioneel te veel geraak het.

“Ek het daarna vir agt jaar by misdaadintelligensie gewerk nadat ek opgelei is as misdaad-analis. In 2014 het ek besluit om by die SAPD te bedank.  Ek het Oktober 2014 by die DA begin werk. Ek was die provinsiale voorsitter se sekretaresse en het baie van politiek geleer.

“In 2016 word ek verkies as PR-raadslid. Die Ritchie-gebied word deur my gediens namens die DA, alhoewel dit nie DA-wyke is nie.  Dis ’n groot gedeelte en sluit Motswedimosa, Rietvale, Modderrivier en Ritchie in.”

Elize vertel sy hou van die debatgedeelte van haar werk en was vir ’n ruk die koukus-voorsitter. Sy is ook al vir vyf jaar op die komitee vir veiligheid en sekuriteit.  Sy is op 5 Desember 2020 by die provinsiale kongres as provinsiale onder-voorsitter verkies.

“Ek word erken as iemand wat soms heeltemal te reguit is, maar ek het ook ’n sagte hart vir mens en diere wat swaarkry.”

Elize en haar man is geseën met twee volwasse kinders en een pragtige kleinkind. Sy vertel sy is heeltemal te besig vir stokperdjies en alhoewel die politiek en die buurtwag haar besig hou, is sy tans besig om verder te studeer.

“Ek is in my finale jaar (vierde jaar) van munisipale reg en publieke administrasie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *