MC Eksteen, ‘n bejaarde man van Wonderboom-Suid, Pretoria, is dié naweek afgeneem waar hy in die straat besig is om sigaretstompies, papiere en ander rommel met ‘n braaitang op te tel en dit in ‘n sak te gooi.
Jakkie van der Colff het die foto van Eksteen op Facebook gedeel en mense het kommentaar gelewer en hul dankbaarheid teenoor hom uitgespreek.
“Wat ‘n voorbeeld vir ieder en elk,” skryf Van der Colff. “En ook ‘n vermaning dat niemand rommel van watter aard ook al in die straat moet gooi nie. Oom MC, ek haal my hoed vir Oom af. Dankie dat Oom wys dat ongeag ouderdom, mens steeds iets kan doen vir die gemeenskap. Mag ander jou voorbeeld volg, maar belangriker, dat ander sal leer om elkeen sy buurt skoon te hou.”



