September 27, 2021

Vrywilliger help grootwithaai wat in plastiek vasgevang is

Die plastiek kom van die pakkies aas wat deur vissermanne gebruik word en word ongelukkig oorboord gegooi.

MOSSELBAAI.- JC Roos, 'n vrywilliger van National Sea Rescue Institute (NSRI), het gehelp om 'n grootwithaai wat in 'n stuk plastiek vasgesit het, te bevry.

MOSSELBAAI.- JC Roos, 'n vrywilliger van National Sea Rescue Institute (NSRI), het gehelp om 'n grootwithaai wat in 'n stuk plastiek vasgesit het, te bevry. (Foto: The Good Things Guy)

MOSSELBAAI.- JC Roos, ‘n vrywilliger van National Sea Rescue Institute (NSRI), het gehelp om ‘n grootwithaai wat in ‘n stuk plastiek vasgesit het, te bevry.

Volgens The Good Things Guy is Roos gevra om mediese ondersteuning te bied aan die Discovery Shark Week-span. Hy het dit sonder om te huiwer aanvaar. Die span verfilm haaie vir die Discovery Shark Week, ‘n jaarlikse gebeurtenis wat die mees fassinerende roofdiere van die oseaan bestudeer en verfilm.

Wat Roos egter nie geweet het nie, is dat die mediese ondersteuning wat hy sou moes bied nie vir ‘n mens sou wees nie, maar vir ‘n grootwithaai wat in plastiek verstrengel was.

Die bemanning aan boord van die Blue Pointer kon sien dat die plastiek reeds groewe in die haai se vel veroorsaak het en het tot die gevolgtrekking gekom dat die haai al vir ‘n geruime tyd so moes rondswem. As die haai net so gelos was, sou dit sekerlik ‘n stadige en pynlike dood wees.

“Ons het besluit dat ons ten minste die plastiek van die haai moet probeer verwyder,” sê JC.

“Om in die water te kom met al die haai-aktiwiteite rondom Seal-eiland voor Mosselbaai, was nie ‘n opsie nie en om die vaartuig naby genoeg aan hierdie spesifieke haai te kry, het na ‘n byna onmoontlike taak gelyk. “

Roos vertel hy het gereël vir ‘n whale disentanglement kit, maar dié het eers dié volgende dag aangekom.

Hy het besef dat hulle sou moes improviseer, aangesien die paal wat gewoonlik vir walvisse en dolfyne gebruik word, nie uit hul vaartuig sou werk nie. Hulle sou ‘n soort meganisme moes ontwerp wat ‘n afstand tussen hul vaartuig en die haai sou toelaat.

“Ons het ‘n stelsel ingerig met behulp van ‘n gewone boothaak en paal, ‘n gespesialiseerde losmaakmes, boeie, tou en nog gereedskap. Ek was vol vertroue dat die stelsel sou werk as ons die plastiekstrook aan die haai kon haak.”

“Die plastiek was styf om die haai se lyf. Ons het besef ons sal daar onder moet probeer inkom. Wat beteken het ons kon hom dalk raaksny. Die lem is redelik kort, en daarom het ons besluit om die risiko om die haai te beseer te neem, want dit sou die moeite werd wees om sy lewe te red. Ons almal het gesê dat indien die haai saamwerk, ons alles in ons vermoë sal doen om hom te red,” het Roos verduidelik.

Net toe hulle die anker wou lig, het hulle die grootwithaai wat in die plastiek vassit weer gewaar

Die eerste poging was ‘n mislukking, al het die haai die aas geneem. Die haai het gespartel en dit was net chaos. Die tweede poging om die haai te help, het ook misluk, maar hulle kon hom nader aan die boot kry.

Die span het gedink oor hoe hulle die haai sou kon help en net toe hulle die anker wou lig, het hulle hom weer gesien.

“Dit was dit!” sê Roos. “Ons week in Mosselbaai het tot ‘n einde gekom, en ons sou waarskynlik nie weer ‘n kans kry om die haai te red nie.”

Die span het die haai langs die boot gekry en JC moes net die stuk plastiek haak en afsny.

“Dit was nie ‘n maklike taak met al die gespartel en chaos nie en ek kon nie die paal styf vashou nie. Ek het geweet dat ek ‘n positiewe haak het, maar ek was nie seker waar nie, as gevolg van al die druk. Die haai het met gewelddige krag wegbeweeg. Die tou wat aan die paal geheg was, het verslap. Toe was dit weer gespanne, en toe het dit weer verslap. Iets het ingegee. Die tou en paal is terug op die boot gelaai en ons kon sien hoe die plastiek na die oppervlak dryf. Ons het dit gedoen! Ons het daarin geslaag om die plastiek van die grootwithaai af te kry!”

Die span kon die stuk plastiek uit die water haal en almal het die redding gevier.

Die plastiek kom van die pakkies aas wat deur vissermanne gebruik word en word ongelukkig oorboord gegooi. Hierdie plastiek vorm ‘n groot bedreiging vir die haaie, soos op die foto’s en video’s gesien kan word.

Lees ook: Polisie op soek na ‘ginekoloog’ wat glo pasiënte verkrag het

Foto: The Good Things Guy

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *