September 16, 2021

Petra Els, mededingend maar familie-georiënteerd

Sy glo ook dat harde werk net ’n bonus is.

Petra Els, mededingend, kompeterend

Petra Els, mededingend, kompeterend

Petra Els (59), ’n donkerkopvrou met ’n aansteeklike lag, sê wanneer jy as vrou in ’n mans-gedomineerde bedryf werk, moet jy straight forward wees en nie draaie loop nie.

Petra het een seun en drie dogters. Sy lag en sê soms kom haar seun tweede as dit by die vroue in die familie kom. “Ons gesin is baie kompeterend. Ons is opdrukkerig, maar op ’n sagte manier, met die beste intensies.”

“Niks is meer belangrik as my familie nie! Ek het vier kinders. Renchia my oudste wat getroud is met Theuns, hy is n equipment engineer. Hulle het onlangs van Saldanhabaai na Kimberley verhuis om te help met die besigheid wat so uit sy nate groei. Arista is met Harion getroud, hy is ’n persoonlike afrigter, en sy is ook die mamma van die pragtigste nege maande oue seuntjie. So ek is n trotse ouma! Sy werk tans by Trevor’s se Spar-tak, maar haar passie is om te teach. Sy het nege jaar oorsee onderwys gegee en wil graag volgende jaar terugkeer na haar passie en haar eie tuisskool oopmaak. Michael, my seun, is betrokke in die besigheid en doen kliëntediens. Hy is verloof aan die pragtige Micayla Marais, ’n baie talentvolle grimeerkunstenaar en fotograaf. Hulle trou volgende jaar April. Dan my jongste Michelle, wat ’n graad het in hoër onderwys, maar wat ook haar voete stewig in die korporatiewe wêreld het.  Sy woon tans in Bloemfontein.  Hoe bevoorreg is ek nie om hulle almal so naby my te hê!”

Petra is die eienaar van twee Trevor’s Wheel and Tyre’s in Kimberley. Sy het ook verlede jaar ’n tweede tak van Trevor’s in Bloemhof oopgemaak. Sy het ook ’n mag-herstelbesigheid wat sy oopgemaak het.

“Wanneer jy in ’n mans-gedomineerde bedryf werk, moet jy weet waaroor jy praat. Moenie van die onderwerp afdwaal nie. Praat reguit en eerlik. Dit boesem vertroue by ’n ander persoon in, of dit nou ’n kliënt of ’n verskaffer is. As jy ’n probleem of ’n moeilike kliënt het, sorteer dit onmiddellik uit, moenie wag nie. Kies ook jou konflik en besluit wat jy bereid is om aan te vat ”

Petra vertel toe sy in 2018 die besigheid by haar eks-man uitgekoop het, was daar onsekerheid oor ’n vrou wat in dié bedryf agterbly, maar haar besigheid het net al hoe sterker geword.

“Dit is omdat ek rock solid werknemers het. Ja, die eienaar beheer die geld, maar sonder jou werkers, is daar nie geld om te beheer nie. Ek glo wat jy saai, sal jy maai. Dit gaan ook oor respek vir jouself en jou kliënte. As jy na jou werkers kyk, sal hulle ook na jou kliënte kyk.”

Sy glo ook harde werk is net ’n bonus.

“Iemand het een keer vir my gesê dit gaan goed omdat jy geseënd is, harde werk is net ’n bonus. Ek gaan nie by my huis uit in die oggend as ek nie op my knieë was nie. Ek bid nie vir my besigheid nie, want dit is in elk geval nie myne nie, dit is die Here s’n. Ek bid vir my werkers en hulle families, vir my kinders en my familie. Ek bid dat die hande wat aan gereedskap vat om aan mense se voertuie te werk, geseënd sal wees. Solank as wat Hy die besigheid in sy hande hou, sal dit goed gaan.”

Petra sê die grootste probleme het gewoonlik die eenvoudigste oplossings en dat jy die vermoë in jou het om dit te hanteer.

“Moenie jouself met ’n man in die besigheidswêreld vergelyk nie. Hoekom wil ons? Ons is nie minderwaardig nie. Watter beroep jy ook al het of wil hê, leer die game, maak seker jy weet waarvan jy praat en wat jy doen. God geen jou die vermoë om te weet wat om te doen.

“Moet ook nie alles self doen nie. As jy jou werknemer reg opgelei het, hoekom sal jy hom nie vertrou nie? Dit is gewoonlik wanneer jou gemaksone gedruk word, wanneer talent en kreatiwiteit na vore kom. In ’n kritieke tyd kom daar goed in jou na vore wat jy nie eers geweet het daar is nie.

“Nie alles gaan oor werk nie en vind ek om balans en myself gefokus te hou dit belangrik is om gesond en fiks te bly. Ek oefen elke oggend saam met ’n persoonlike afrigter, Jamé Hansen, en glo my, sy roer my! My passie vir ontspanning is hiking trails. So het ek en my sus al die El Camino in Spanje gaan stap en ook verskeie ander staptogte.

“En dan natuurlik my ander regterhand behalwe my seun Michael,  is Edward du Plessis, wat die Vader presies op die regte tyd vir my in die besigheid gebring het. Sonder hom sou die besigheid nie gewees het waar ons tans is nie. ’n Besonderse jong man wat ’n merkwaardige impak op die besigheid het.

“Om dinamies as vrou te wees, kan jy net “operate” as jy optree met dit wat God in jou ge“install” het. Wanneer ons swak is, kom die ware sterkte in jou na vore. Alle Eer aan my Vader.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *