Vegkuns vir ’n goeie doel

Deel hierdie storie / Share this story

Ryan Clarke (36) ’n meester in boks, skopboks, Brazilian Jujitsu, MMA en mediese en sportvoeding gebruik sy beroep vir ’n baie goeie doel.

Nie net leer hy vroue hoe om hulleself te beskerm nie, hy neem ook minderbevoorregte kinders by sy gym in en leer hulle van vegkuns. Sodoende bly hulle uit die strate en uit die moeilikheid uit.

Hy was eers vir vyf jaar ’n dosent by die FET-kollege en is ook ’n geregistreerde IT-spesialis, sowel as ’n mediese en sportverpleegkundige. Die gym is egter nou sy voltydse werk.

Alhoewel hy reeds vir 15 jaar in die gesondheidsbedryf is, het hy eers drie en ’n half jaar gelede sy gym begin. Ryan het twee afrigters, waarvan een sy broer, Evan Clarke (35) is.

As ’n diabeet vir meer as 23 jaar, was sy gesondheid bitter sleg. Hy het begin oefen en dit het hom gehelp om gefokus te wees, beheer oor sy lewe te kry en hom gedissiplineerd te hou. Van daar af is hy gesond en kan sy lewe geniet.

Liggaamsbou en ander oefeninge word ook vir mense wat wil aansluit, aangebied.

Die gym is ook nie net ’n gewone gym of plek waar jy vegkuns kan leer nie. Dit is ’n nie-winsgewende gym wat meestal van donasies afhanklik is. Hulle bied selfverdedigingklasse aan en het verlede Vrydag vir Vrouemaand ’n gratis selfverdedigingklas aangebied ter ondersteuning van slagoffers van geslagsgeweld.

Hulle het ook ’n Bike Run met dieselfde doel in Ritchie aangebied en werk saam met die regering en die polisie vir hierdie doel. Daar is ook ten alle tye ’n persoon by die gym beskikbaar vir vroue of kinders wat nodig het om met iemand te praat.

Hier geen Ryan raad oor hoe vroue hulleself kan beskerm indien hulle aangeval word:

  • Bly kalm. As jy paniekerig raak, kan jy nie dink nie.
  • Lig iemand vooraf in waarheen jy op pad is en as jy na ’n tweede plek gaan, lig ook iemand in.
  • Dra pepersproei. Dit is die vinnigste en maklikste manier om ’n aanvaller in sy spore te stop.
  • Probeer om nie alleen uit te gaan nie. Gaan altyd saam met iemand wat jy werklik vertrou.
  • As iets gebeur, byt, krap, skop en veg vir jou lewe. Iemand wat terugbaklei, kan ’n aanvaller afskrik.
  • As iemand jou met ’n mes nader, gee jou foon of beursie sonder om te twyfel. Dit is nie jou lewe werd nie.
  • Angstigheid kan jou aanvaller ook angstig maak en hom of haar dalk aanmoedig om gewelddadig te word, so probeer kalm bly.

As jy enige donasie wil maak of op enige manier wil help, skakel vir Ryan by 071 126 3072.