Pienk windpomp ’n ‘baken van hoop’ vir kankerlyers

Deel hierdie storie / Share this story

“’n Baken van hoop. ’n Baken van hoop vir kankerlyers en ook vir dié wat hulle stryd teen kanker verloor het.”

So beskryf Nelrize Eksteen-Mortlock van die plaas Koppiesvlei die pienk windpomp wat onmiskenbaar teen die pad op die plaas staan en reisigers se aandag trek.

Die windpomp is in 2013 reeds pienk geverf om kankerbewustheid in die omgewing te bevorder en Nelrize vertel dat sy en haar man, Herman, die tema al vir byna nege jaar laat voortleef.

“My boetie, Chris Eksteen, het destyds ’n buitelugskool, Koppiesvlei Outdoor Education Centre, op die plaas gehad. Dit was jaarliks die studente se opdrag om tydens kankermaand iets te doen om kankerbewustheid te bevorder. Die een jaar het hulle, sonder toestemming nogal, besluit om die windpomp teen die pad pienk te verf.”

Nelrize en haar man, wat nou op die plaas woon na Chris sy buitelugskool toegemaak het, sê hulle het sedertdien nog ’n kleiner pienk windpomp aangeskaf, ’n vragmotor ook pienk geverf en probeer op dié manier die kankertema op Anders@Koppiesvlei op die plaas herhaal.

“Omdat ons self al familielede as gevolg van kanker aan die dood afgestaan het, lê die pienk windpomp ons baie na aan die hart.”

Nelrize vertel die gemeenskap van Theunissen is ’n gemeenskap wat baie sterk saamstaan en in tye soos kankermaand is dit duidelik sigbaar. “Daar is ’n groot groep mense op die dorp wat tydens kankermaand blomme uitstal, pienk lappe om bome draai en selfs pamflette by skole in die dorp uitdeel.”

“Ek dink die pienk tema is ’n droom wat ontstaan het en nou voortleef en ek dink ons wil uiteindelik hê dat Theunissen bekendstaan as die pienk windpomp-dorpie.”