September 27, 2021

‘Ek haal my hoed af vir jou!’

Jo-Anne van der Merwe (47) vertel van haar interessante en skaars werk as hoedemaker en die uitdagings wat sy daagliks moet aanpak, die lekkerste deel van haar werk en die harde werk wat die maak van hoede behels.

Jo-Anne is al vir 17 jaar in die bedryf en sê sy het begin toe sy besef het daar is ’n groot behoefte aan meer bekostigbare hoede. “In ons kerk dra ons hoede. Oor die algemeen is hoede maar baie duur by boetieks en ek het besluit ek wil ook graag probeer hoede maak om dit vir die mense wat dit nie regtig kan bekostig nie, ’n bietjie meer bekostigbaar aan te bied.”

“Ons werk is baie interessant,” vertel Jo-Anne. “Almal dink jy maak net gou-gou ’n hoed – dit neem jou ’n uur en dan is jy klaar. Maar glo my, dit vat bitter baie langer!”

Jo-Anne sê die lekkerste deel van haar werk is om hoede te ontwerp. “Dit is regtig vir my lekker, want jy probeer elke keer iets anders. Nie twee hoede kom ooit dieselfde uit nie!”

Jo-Anne, wat al op die televisieprogram Top Billing verskyn het om oor haar hoede te praat, sê die uitdagendste deel van haar werk is om ’n hoed presies te ontwerp en te maak soos wat ’n kliënt dit wil hê.

Sy ontwerp nie net hoede nie, maar sê sy het al goed soos mandjies, ringkussings en die bruid se sluier by ’n troue van ongeveer 500 gaste ontwerp en gemaak. Sy maak ook gereeld vir die Durban July en die ANC hoede.

“Die ‘crazyste’ hoed wat ons al gemaak het, was ’n hoed wat nie ’n begin het nie en ook nie ’n einde nie. As ek dit so kan stel,” vertel Jo-Anne. “Jy sit hom op jou kop en dan kan jy nie onthou waar jy begin en waar jy geëindig het met die ontwerp nie! Daai was ’n baie interessante hoed!”

Die proses, van die materiaal wat oor die vorm getrek word om droog te raak tot die strykery en die snyery en drade wat ingesit moet word en dan uiteindelik die versierings, neem haar ongeveer drie ure om te voltooi.

“Gewoonlik vra ek my kliënt watter klere en watter skoene hulle gaan aanhê en dan is dit ook belangrik hoe die persoon self lyk. Nie enige hoed pas by enige person nie. Jou breedte, jou lengte en jou gesigvorm kan ook grootliks bydra tot watter tipe hoed die beste by jou sal pas.”

Juanita du Toit, ’n bekende hoedmaker van Pretoria, het Jo-Anne oor die telefoon geleer om hoede te maak. “Die eerste en die tweede een was ’n flop, maar dit het al hoe beter geraak en binne die eerste maand het ek al bestellings gekry van mense wat wou hê ek moes hulle hoede ontwerp!”

Jo-Anne het ook haar eie Facebook-blad, Jo-Anne Hats, waarop sy foto’s van haar hoede plaas. Gaan loer gerus hier daarna.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *